Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Boere is optimisties nadat Botswana die verbod op groente-invoere ophef
# Verkeersontwrigtings en -oponthoud op die N3-tolpad duur voort
# En, tennis: Zheng Qinwen wil nog rus voor die Australiese Ope
# Suid-Afrikaanse boere is versigtig optimisties oor Botswana se geleidelike opheffing van die verbod op groente-invoere. Die buurland se minister van Internasionale Betrekkinge, Phenyo Butale, het die besluit aangekondig nadat die verbod Suid-Afrika se groente-uitvoere verlede jaar halveer het tot 272-miljoen-rand. Bennie van Zyl van die landbou-organisasie TLU SA sê om vertroue te bou en aan infrastruktuur-behoeftes te voldoen is uiters belangrik vir suksesvolle handel. Die gefaseerde benadering begin met die onmiddellike invoer van uitgesoekte groente en sal in April verder uitbrei.
# Die N3-tolkonsessie sê verkeersontwrigtings, -opeenhopings en -oponthoud duur voort op die N3-tolroete tussen Grootvlei in Mpumalanga en Villiers in die Vrystaat. Woordvoerder Thania Dhoogra sê hulle is besig met opruimingswerk op die toneel van die taxi-ongeluk by die Vaaldraai-wisselaar en die vragmotorongeluk by die Wilge-plaza in die Vrystaat. Sy sê by die taxi-ongeluk word verkeer in ‘n suidelike rigting oor die Grootvlei-wisselaar herlei, terwyl die verkeer by die vragmotorbotsing opgehoop het:
Die Polisie- en Gevangenis-vakbond Popcru vra intussen dat die land se verkeersdienste genasionaliseer word. Woordvoerder Richard Mamabolo sê die beamptes moet in die Departement van Vervoer of die Polisiediens opgeneem word. Mamabolo is ook bekommerd oor beweerde swak werkstoestande en te min personeel in verkeersdepartemente waar die 15-duisend beamptes wat 24 uur per dag op die nasionale en provinsiale paaie ontplooi is, oorwerk is:
# Tennis: Die wêreld nommer vyf, Zheng Qinwen van China, het onttrek aan die United Cup-toernooi om nog te rus. Die 22-jarige het ‘n deurbraakseisoen beleef wat drie enkelspeltitels opgelewer het, met die Olimpiese goue medalje die hoogtepunt. Sy het ook in haar eerste Grand Slam-eindstryd gespeel op Melbourne Park, en in skoon stelle verloor teen die huidige wêreld nommer een, Aryna Sabalenka van Belarus, nadat sy in die gemengde spankompetisie, die United Cup, gespeel het. Zheng het gekies om langer te rus voor die Australiese Ope op 12 Januarie begin.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-966-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-629-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-88-sent per vat.
# En ten slotte: Die Departement vir Vroue, die Jeug en Persone met Gestremdhede dring aan op die beskerming van hierdie kwesbare groepe tydens die feestyd. Dit volg op ‘n toename in die aantal geslagsgeweldsake sedert die begin van die feestyd. Die departement se woordvoerder, Cassius Selala, het aan die SABC gesê hierdie voorvalle word gewoonlik aan drankmisbruik gekoppel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….