Nuus 13:00
BULLETIN 22 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC swaai Eskom lof toe vir die stabilisering van die nasionale netwerk
# Minister Gwarube maan die Bela-wet sal nie vir politiek gebruik word nie
# En, krieket: ‘n Tiener-draaibouler klits vyf om vir 33 met Afghanistan wat Zimbabwe oorweldig
# Die ANC het Eskom se pogings geloof terwyl Suid-Afrika 290 dae sonder beurtkrag beleef. Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula het aan die media gesê verbeterde onderhoud en die energie-aksieplan het die netwerk gestabiliseer, met oortollige elektrisiteit wat in Januarie verwag word. Mbalula beklemtoon dat uitdagings soos onwettige verbindings voortduur. Hy sê die ANC moedig beter betaling vir dienste aan om ekonomiese groei te steun en elektrisiteitsvoorsiening verder te verbeter:
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube onderneem om skole te beskerm teen politieke uitbuiting wat verband hou met die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette. Sy lê klem op veiligheid en leerwerk. Gwarube lig die belangrikheid uit van moedertaalonderwys vir beter uitkomste, terwyl al twaalf amptelike tale beskerm word. Sy waarsku teen viktimisering en beloof om leerders se welstand die middelpunt van die instelling van die Bela-wet te maak, wat gehalte-onderwys sal verseker vir 13,5-miljoen leerders:
# Die groep, Mining Affected Communities United in Action, onderneem om te appelleer teen ‘n uitspraak van die Hooggeregshof in Pretoria wat sy aansoek van die hand gewys het om reddingsoperasies af te dwing vir vasgekeerde myners in Stilfontein, Noordwes. Aktiviste beskryf dit as ‘n doodsvonnis. Die organisasie sê die uitspraak lig sistemiese mislukkings uit, wat insluit die staat se nalatigheid oor mynsluitingregulasies, terwyl polisiëring voorkeur kry bo myners se reg tot lewe. Hulle eis onmiddelike optrede deur die staat en sistemiese hervorming om kwesbare gemeenskappe te beskerm wat geraak word deur nalatigheid deur die mynbedryf.
# Vrae neem toe oor of die Duitse regering meer kon gedoen het om die inploeg van ‘n voertuig in ‘n Kersmark te keer waarin vyf mense dood en meer as 200 beseer is. Die Saoediese verdagte, die 50-jarige psigiater en anti-Islam-aktivis Taleb al-Abdulmohsen, het aanlyn Duitse burgers gedreig en het ‘n geskiedenis van onderonsies met staatsowerhede. Die nuustydskrif Der Spiegel berig die Saoediese geheime diens het ‘n jaar gelede Duitsland se spioenasie-agentskap gewaarsku oor ‘n twiet waarin Abdulmohsen gedreig het Duitsland sal die prys betaal vir sy behandeling van Saoediese vlugtelinge.
# En, krieket: Die tiener-draaibouler Allah Ghazanfar het gister vyf paaltjies laat kantel vir 33 lopies met Afghanistan wat Zimbabwe met agt paaltjies oorweldig het vir ‘n 2-0 eendag internasionale reeksoorwinning. Die 18-jarige het verlede maand se ses-paaltjie prestasie teen Bangladesj opgevolg met ‘n speler-van-die-wedstryd vertoning in Harare toe die besoekers die gashere die tweede keer in drie dae geklop het. Reën het Dinsdag spel in die eerste eendagwedstryd in die reeks van drie kragmetings onmoontlik gemaak.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….