Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gesondheidsdepartement vra kalmte te midde van n uitbreking van Duitse masels
# Watertoevoeronderbrekings tref Nelson Mandelabaai
# En, sokker: Roy Keane sê dit sal Marcus Rashford goed doen as hy Manchester United sou verlaat
# Die Gesondheidsdepartement het mense gevra om kalm te bly na ‘n toename in gevalle van Duitse masels. Meer as tien-duisend gevalle is vanjaar aangemeld, meestal by kinders onder 15. Gauteng en die Wes-Kaap het die meeste gevalle aangeteken. Ouers moet op die uitkyk wees vir simptome soos ‘n uitslag, koors en geswelde limfkliere. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê hoewel Duitse masels minder ernstig is by kinders, hou dit groot gevare in vir swanger vroue en hulle ongebore babas:
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling en die Nasionale Vervolgingsgesag het ingestem om hul samewerking te versterk. Dit het betrekking op die Ondersoekdirektoraat teen Korrupsie se toegang tot die Staatskapingskommissie se inligting. Die NVG het in September verklaar dat die departement struikelblokke geskep het wat keer dat hulle toegang kry tot die kommissie se databasis met bewyse. Die departement se woordvoerder, Terrence Manase, sê gesprekke met die NVG was opbouend:
# Inwoners van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit in die Oos-Kaap word gewaarsku oor wateronderbrekings die volgende 48 tot 72 uur. Dringende herstelwerk word uitgevoer om die toevoer te herstel. Volgens die munisipaliteit is daar verminderde uitset by die Loerie- en Nooitgedacht-watersuiweringswerke. TimesLIVE berig reservoir-sones, insluitend Motherwell en Greenbushes, het kritiek-lae vlakke van 15 tot 13-persent of minder. Die munisipaliteit versoek inwoners om water spaarsaam te gebruik.
# Gisèle Pelicot, wie se eksman en 50 ander mans in Frankryk gevonnis is vir ‘n reeks verkragtings en seksaanvalle teen haar, sê sy veg vir mense regoor die wêreld wat slagoffers is van seksuele geweld. Sy het buite die hof in Avignon gevra vir ‘n toekoms waar alle mense in harmonie, respek en wedersydse begrip kan saamleef. Haar voormalige man, Dominique Pelicot, het erken dat hy haar bedwelm en verkrag en tientalle vreemdelinge genooi het om dieselfde by hul huis te kom doen.
# Sokker: ‘n Gewese kaptein van Manchester United, Roy Keane, glo dit sal Marcus Rashford net goed doen om die klub te verlaat, want die voorspeler sal waarskynlik nooit sy honger vir die spel terugvind op Old Trafford nie. Die 27-jarige Rashford se toekoms hang blykbaar in die weegskaal nadat hy uitgelaat is vir die Manchester-derbie. Hy was ‘n produk van United se jeugprogram. United het Manchester City Sondag 2-1 verslaan. Rashford sê hy is gereed vir ‘n nuwe uitdaging.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-33-sent teen die dollar, 19-rand-4-sent teen die euro en 22-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-132-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-605-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-91-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….