Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 17 Desember 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# ‘n Aktivis sê die twis oor die publisering van matriekuitslae kon buite die hof geskik word
# Maatskaplike werkers in Noordwes repatrieer 27 kinderslagoffers van mensehandel na Mosambiek
# En, gholf: Amerikaanse spelers sal betaal word om mee te ding in die 2025 Ryderbeker
# Die onderwysaktivis Hendrick Makaneta sê die twis tussen die Departement van Basiese Onderwys en die Inligtingsreguleerder kon sonder bemiddeling opgelos word. Die departement daag die reguleerder se verbod op die publisering in die hof uit en sê dis nie volgens wet nie. Makaneta sê die reguleerder glo die departement oortree die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting:
# Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in Noordwes berig maatskaplike werkers sal 27 Mosambiekse tienerseuns repatrieer. Hulle is slagoffers van mebnsehandel en het meer as ‘n maand gelede teruggekeer na die oppervlak van ‘n ongebruikte myn in Stilfontein. Die departement se woordvoerder, Petrus Siko, sê die polisie in Matlosana het 15 ongedokumenteerde kinders gevind en nog twaalf het uit die verlate myne teruggekeer en is vir twee weke in veilige sorg in Mahikeng:
# Rand Water sê hy het begin om watertoevoer na sekere gebiede te herstel nadat dele van Johannesburg 86 uur sonder water was terwyl instandhoudingswerk uitgevoer is. Die watertekorte is veroorsaak deur onderhoudswerk aan die Eikenhof- en Zwartkopjes-pompstasies. Gebiede soos Soweto, Randburg, Roodepoort en Lenasia is geraak. Rand Water se woordvoerder, Makenosi Maroo, sê dit sal ‘n paar dae duur voordat die stelsel weer in volle werking is:
# Die United States Geological Survey het bevestig ʼn aardbewing van 7,4 het naby Port Vila, Vanuatu, voorgekom met ʼn naskok van 5,5. Beeldmateriaal op sosiale media toon gebuigde vensters en betonpilare wat omgeval het by ʼn gebou wat buitelandse ambassades in Port Vila huisves. Dit sluit dié van Amerika, Frankryk en die Verenigde Koninkryk in. Reuters berig geen aanvanklike berigte van beserings of sterftes is aangemeld nie. Plaaslike inwoners sê dis die grootste aardbewing wat Vanuatu in 20 jaar getref het.
# Gholf: Die Amerikaanse PGA het aangekondig spelers vir volgende jaar se Amerikaanse span word die eerste keer betaal om in die Ryderbeker te speel. Elkeen van die 12 spelers in kaptein Keegan Bradley se span sal altesaam 8,9-miljoen-rand ontvang vir deelname. Daarvan word 5,4-miljoen-rand geskenk aan ‘n organisasie of organisasies vir liefdadigheid van die keuse van elke speler, terwyl die oorblywende 3,6-miljoen-rand ʼn toelae is. Volgens Bradley sal hy sy hele toekenning aan liefdadigheid skenk. Europa het die Ryderbeker in 2023 gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 18-rand-84-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 107-duisend-339-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-643-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….