Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika se Verkrygingswet word gekritiseer oor korrupsie-skuiwergate
# Sassa stel weer planne bekend vir die landwye ontplooiing van sy gesigsherkenningstelsel om bedrog te voorkom
# En, rugby: Senior All Blacks was vies oor die ligte straf vir Damian McKenzie na hy die spanprotokol oortree het
# Die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling het Suid-Afrika se Wet op Openbare Verkryging gekritiseer wat in Julie bekragtig is, en sê daar is te veel skuiwergate vir korrupsie. Die organisasie waarsku oor buitensporige mag aan amptenare wat kan besluit om maatskappye op die swartlys te plaas en verkrygingsinligting te weerhou. Die wet het ook nie ‘n duidelike definisie van belangebotsings of kriteria oor omgewingsfaktore in tenders nie. Die organisasie sê hoewel die wetgewing ʼn Openbare Verkrygingstribunaal voorstel, bly swakhede in die stelsel ʼn probleem wat verkrygings-integriteit belemmer.
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap Sassa gaan weer landwyd gesigsherkenning instel om bedrog te voorkom nadat studente van Stellenbosch kwesbaarhede uitgewys het in die Maatskaplike Noodverligtingstoelaag. Sassa se woordvoerder, Paseka Letsatsi, het teenoor Newzroom Afrika bevestig ‘n ondersoekverslag wat gister oor kwesbaarhede met diefstal vrygestel is, het duidelik ʼn swakheid in die aansoekprosesse uitgewys:
# Die Stad Johannesburg sal vandag sy uitstaande bedrag van 1,4-miljard-rand aan Eskom betaal om te verhoed dat die stad van die netwerk ontkoppel word. Die metro se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê die Suid-Afrikaanse Nasionale Energie-ontwikkelingsinstituut se sperdatum vir die ondersoek van fakture is verleng tot 6 Desember. Volgens News24 veg die stad ook teen onwettige elektrisiteitsgebruik, met byna 47-persent van voorafbetaalde meters wat as ongeldig geïdentifiseer is. Pogings duur voort om gepeuter en agterstallige skuld aan te pak.
# Action Society sê Suid-Afrika het 365 dae van aktivisme nodig om geslagsgeweld doeltreffend te bekamp, nie 16 dae nie. Die party waarsku toesprake en veldtogte beteken nie veel sonder werklike verandering nie. Juanita du Preez van die organisasie sê werklike verandering vereis die herstel van stelsels, nie lippetaal nie, om te verseker vroue en kinders is elke dag veilig, nie net tydens ‘n jaarlikse veldtog nie:
# Rugby: Senior All Blacks was volgens berigte kwaad en ontnugter oor hoofafrigter Scott Robertson se ligte straf vir die losskakel Damian McKenzie nadat hy vroeër vanjaar spanprotokol oortree het. Hy het die bus verpas na Nieu-Seeland se oorwinning oor Fidji in San Diego in Julie, maar moes slegs op sy eie by die lughawe kom en die span om verskoning vra. Die Kiwis het die volgende wedstryd teen Argentinië verloor. Die nuwe breier het blykbaar gevaar geloop om die senior spelers te vervreem omdat hy McKenzie nie swaarder gestraf het nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-23-sent teen die dollar, 19-rand-21-sent teen die euro en 23-rand-6-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-295-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-646-dollar-47-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-7-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….