Nuus 13:00
BULLETIN 15 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Ministerie van Verdediging bevestig die hoof van die Weermag se reis na Iran is goedgekeur
# Die Gautengse LUR vir Vervoer sê minibustaxi- en e-taxi-verenigings moet hulle geskille oplos
# En rugby: ‘n Laat verandering aan die Bokspan vir die toets teen die Wallabies
# Die Ministerie van Verdediging en Militêre Veterane sê minister Angie Motshekga het die hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, Rudzani Maphwanya, se reis na Iran gemagtig. Maphwanya se goedkeuring van Iran se standpunt oor Gaza het kritiek ontlok, met president Cyril Ramaphosa wat hom daarvan distansieer het. Woordvoerder Onicca Kwakwa het aan Newzroom Afrika gesê die besoek spruit voort uit ‘n militêre samewerkingsooreenkoms van 2016 oor gesondheid, kuberveiligheid en tegnologie:
# Gauteng se LUR vir Paaie en Vervoer, Kedibone Diale-Tlabela, waarsku die minibustaxi- en e-taxi-verenigings wat by die Maponya-winkelsentrum in Pimville, Soweto, bedrywig is, om hul geskille op te los deur platforms te gebruik wat die departement voorsien. Dit volg na Woensdagaand se skietvoorval by die winkelsentrum toe ʼn e-taxibestuurder vermoor en twee voertuie aan die brand gesteek is. Diale-Tlabela sê griewe of handelsgeskille regverdig nie die dood van ʼn persoon of gevaar vir onskuldige mense nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê daar is ʼn dringende behoefte aan strenger nakoming van voedselveiligheid-protokolle, gereelde inspeksies en die monitering van voedselvoorbereiding en -berging in Oos-Kaapse skole. Meer as 150 leerders van die Landbouskool Gobisizwe in Mthatha is Woensdag na die hospitaal gehaas nadat hulle vermoedelik voedselvergiftiging opgedoen het. Thami Makuzeni van die vakbond sê hulle is bekommerd oor die herhaalde voorvalle ondanks die provinsiale Onderwysdepartement se riglyne oor voedselveiligheid:
# Rugby: Springbok-afrigter Rassie Erasmus moes op die nippertjie ʼn verandering aanbring aan sy span wat Australië môre in hul eerste Rugbykampioenskaps-kragmeting op Ellispark pak. Jan-Hendrik Wessels moes onttrek nadat hy Woensdag tydens oefening ʼn ligte besering opgedoen het, en die stut Boan Venter sal vir hom instaan. Venter, Bongi Mbonambi en Asenathi Ntlabakanye is die voorry-spelers op die bank.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-55-sent teen die dollar, 20-rand-51-sent teen die euro en 23-rand-79-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-117-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-344-dollar-45-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-91-sent per vat.
# En laastens, die bekende jazz-ikone, Jonathan Butler en Themba Mkhize, ontvang vanjaar die Mzantsi Jazz-toekenning vir hul lewenslange bydrae. Vorige ontvangers sluit in Abigail Kubeka, Jonas Gwangwa, Letta Mbulu en Dorothy Masuka. Butler, ʼn Grammy-benoemde sanger en liedjieskrywer, het in Maart ʼn eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang. Mkhize is ʼn hooggeagte pianis en komponis wat deel was van jazz-groepe soos Sakhile en Bayete. Die negende weergawe van die Mzantsi Jazz-toekennings vind die 30ste in Johannesburg plaas.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….