Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die hof verwerp ‘n eis vir ramphulp aan onwettige mynwerkers in Stilfontein
# Umalusi vra aanspreeklikheid vir foute in die matriek-geografievraestel
# En, krieket: ‘n Reuse-oorwinning vir Indië in die eerste toets teen Australië in Perth
# Die polisie verwelkom ‘n uitspraak deur die Hooggeregshof in Pretoria wat ʼn aansoek van die Society for the Protection of Our Constitution verwerp het om hulp en redding te verskaf aan beweerde onwettige mynwerkers in Stilfontein, Noordwes. Die polisie hou vol geen mynwerkers is vasgekeer nie, terwyl meer as een-duisend-200 onlangs na die oppervlak gekom het. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê beperkte voorrade soos water en pap is ondergronds gestuur en mediese personeel is op bystand:
# Die waarnemende adjunk-direkteur-generaal van Binnelandse Sake, Albert Matsaung, sê die rol van die departement in immigrasiebestuur sluit nie die regulering van bepaalde ondernemings in nie. Matsaung het aan eNCA beklemtoon hulle fokus is om te bevestig of buitelandse burgers se permitte ooreenstem met hulle sakebedrywighede. Hy verduidelik Binnelandse Sake reik 17 permitte kragtens die Immigrasiewet uit, wat elkeen toelaatbare optrede, liggings en tydraamwerke vir permithouers uiteensit:
# Umalusi vra aanspreeklikheid vir die foute in die Geografiematriekvraestel 2, geadministreer deur die South African Comprehensive Assessment Institute. Altesaam 967 kandidate is afgesonder nadat foute ontdek is in vrae van 79 punte. Die foutiewe vraestelle is teruggeneem en ‘n korrekte weergawe is verskaf. Die instituut het verskoning gevra, en gehalteversekeringprosesse is aangepas om toekomstige foute te voorkom. Umalusi sê hy sal die uitwerking van die voorval hersien en regverdigheid tydens die nasienproses verseker.
Die nie-regeringsorganisasie, World Changers Candidate, doen intussen ‘n beroep op leerders, veral matrieks, om hulle te weerhou van deelname aan sogenaamde penne neer-partytjies. In Junie 2022 is 21 tienders dood by so ‘n partytjie in die Enyobeni-kroeg in die Oos-Kaap. Die organisasie het ‘n veldtog, SAY NO to Pens Down, van stapel gestuur. Die voorsitter, Lucas Mahlakgane, het aan die SABC gesê weerhouding is die sleutel om die risiko van nog ‘n Enyobeni-tragedie te verminder:
# Krieket: Indië het ’n reuse-oorwinning van 295 lopies oor Australië behaal in die eerste toets in Perth. Albei spanne het in die eerste beurt swakkerig gekolf – Indië 150 en Australië 104. Die besoekers was egter in die tweede beurt in beheer en het op 487 vir ses verklaar na honderdtalle deur Yashasvi Jaiswal en Virat Kohli. Dit het aan Australië ʼn wenteiken van 534 gestel. Die Baggy Green is egter op die voorlaaste dag vir 238 uitgeboul. Die tweede van die vyf toetse begin volgende Saterdag in Adelaide.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-4-sent teen die dollar, 18-rand-91-sent teen die euro en 22-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 98-duisend-602-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-674-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….