Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verbruikersinflasie daal in Oktober tot 2,8-persent, die laagste sedert Junie 2020
# Afpersers het binne vier jaar bouprojekte ter waarde van 51,6 miljard-rand ontwrig
# En, tennis: Swartmarkpryse vir die Davisbeker-eindtoernooi het die hoogte ingeskiet na Nadal se aankondiging oor sy uittrede
# Statistieke Suid-Afrika het bekendgemaak verbruikersinflasie het in Oktober tot 2,8-persent gedaal, die laagste vlak sedert Junie 2020. Dit verteenwoordig ’n beduidende afname teenoor 3,8-persent in September, wat hoofsaaklik aangevuur is deur ’n skerp maand-tot-maand afname in brandstofpryse. Voedselinflasie het ook tot die laagste vlak sedert 2019 gedaal, en die prys van mieliemeel, brood en suiwelprodukte het gedaal. Woordvoerder Ricado Johnson sê kategorieë soos suiker en drank het geringe prysstygings getoon:
# Afpersers het tussen 2018 en 2022 meer as 287 bouprojekte ter waarde van 51,6-miljard-rand ontwrig. Kleiner kontrakteurs, wat nie oor hulpbronne beskik nie, is die swaarste getref, met die meeste voorvalle in Gauteng en KwaZulu-Natal. Die minister van Openbare Werke, Dean Macpherson, het tydens die Nasionale Boubedryfberaad in Durban verwys na die uitwerking daarvan, wat opsetlike beskadiging en geweldpleging insluit. Hy sê die regering en belanghebbendes het die Durbanse Verklaring onderteken, wat hulle daartoe verbind om afpersing deur verskerpte wetgewing te bekamp:
# Greenpeace Africa sê met COP29 in sy laaste week, vra hy steeds vir ‘n volhoudende fonds vir verlies en skade, en ‘n nuwe gesamentlike doelwit wat Afrika se behoeftes vir klimaatfinansiering weerspieël. Die doel van die konferensie in Azerbeidjan se hoofstad, Baku, is dat al die lande sal instem tot ooreenkomste rakende kwessies soos finansiering, koolstofmarkte en die toekoms van fossielbrandstof. Greenpeace Africa sê elke oomblik van niksdoen kos lewens en vererger die klimaat-onreg wat Afrika bedreig.
# Tennis: Kaartjies vir dié week se Davisbeker-eindtoernooi in Málaga, Spanje, het herverkoop vir tot 460-duisend-rand. Belangstelling in die immergewilde mans-spankompetisie het die hoogte ingeskiet na die nuus dat die toernooi die swanesang gaan wees vir die plaaslike held Rafael Nadal, wat gister sy laaste wedstryd vir sy land gespeel het. Kaartjies het aanvanklik vir sowat een-duisend-900-rand verkoop, maar was uiters gesog na Nadal se aankondiging. Sy spanmaat, Carlos Alcaraz, sê die Davisbeker vind elke jaar plaas, maar die uittrede van ‘n legende van die sport, gebeur net eenkeer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-13-sent teen die dollar, 19-rand-15-sent teen die euro en 22-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-463-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-625-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-54-sent per vat.
# En ten slotte: Verbruikers word gewaarsku om bedag te wees vir die verskeidenheid bemarkingslagysters wat vir Swart Vrydag gestel word, veral deur lokvalbemarking. BankServ Afrika sê hul 3D-Secure-diens het verlede jaar 1,4-miljoen Swart Vrydag-transaksies ten bedrae van 1,39-miljard-rand aangeteken. Die programleier van MANCOSA se Skool van Staatsadministrasie, Nestene Botha, sê verbruikers moet versigtig wees om nie in die opbou meegevoer te word nie:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….