Nuus 13:00
BULLETIN 14 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die parlementêre ad hoc-komitee vergader oor Mkhwanazi se bewerings
# Die borgtogvoorwaardes van sewe Misdaadintelligensie-lede word aangepas
# En ‘n Noord-Kaapse onderwyser is voorlopig geskors oor sy swartgeverfde gesig
# Die Parlement se ad hoc-komitee wat ondersoek instel na die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, se bewerings, vergader vandag om sy verwysingsraamwerk te oorweeg. Die komitee is gestig om bewerings van politieke inmenging in misdaadbestrydingspogings te ondersoek, maar moet eers die omvang van die werk uiteensit voor hy voortgaan. Die Parlement sê die proses is daarop gemik om deursigtigheid, billikheid en nakoming van behoorlike prosesse te verseker wanneer hierdie bewerings bekyk word.
# Die Pretoriase Landdroshof het die borgtogvoorwaardes van die hoof van Misdaadintelligensie, Dumisani Khumalo, en nog ses lede van die eenheid gewysig om getuies in die voortgesette bedrog- en korrupsiesaak te beskerm. Die groep staan tereg op aanklagte wat verband hou met die vermeende onregmatige aanstelling van brigadier Dineo Mokwele in ‘n senior posisie sonder om die vereiste prosedures na te kom. Volgens die staat is sommige getuies ook polisiebeamptes en bekend aan die beskuldigdes.
# Die Noord-Kaapse Onderwysdepartement van Onderwys het ‘n onderwyser van Upington voorlopig geskors terwyl ondersoek ingestel word na ‘n swartgesig-voorval by ‘n geleentheid by die Hoërskool Duineveld verlede week. Jaco Liebenberg het na bewering ‘n swartgeverfde gesig gehad by ‘n skoolfunksie wat wydverspreide verontwaardiging veroorsaak het nadat foto’s op sosiale media versprei is. Wynand Boshoff van die Vryheidsfront Plus sê die ondersoek moet nie in ‘n heksejag ontaard om rassisme te bewys in ‘n poging om die ontwrigting te regverdig nie:
# Die Suid-Afrikaanse Suikerrietkwekersvereniging versoek die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, om die regulasies te finaliseer wat kleinhandelaars, voedsel- en drankvervaardigers, meulenaars en produsente sal toelaat om gesamentlik te onderhandel oor die aankoop van hoofsaaklik plaaslike suiker. Die suikerbedryf ondervind ‘n beduidende bedreiging oor die tariewe van 30-persent wat op suikeruitvoere na Amerika ingestel is. Die voorsitter van die vereniging, Higgins Mdluli, sê die land se suikerbedryf is ‘n nasionale bate en moet beskerm word:
# Atletiek: Die paalspring-wêreldrekordhouer, Armand Duplantis, is opgewonde oor die ambassadeursrol wat hy volgende jaar gaan speel tydens Wêreldatletiek se nuwe kampioenskap. Die Sweeds-Amerikaanse atleet het onlangs sy 13de rekord in die item opgestel en het ook twee Olimpiese gouemedaljes verower. Hy is as die Ster-atleet van die nuwe kampioenskap aangewys. Die byeenkoms sal teen die einde van die 2026-seisoen in Boedapest, Hongarye plaasvind, en daarna elke twee jaar. Prysgeld vir die eerste jaar beloop 175-miljoen-rand.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 20-rand-52-sent teen die euro en 23-rand-85-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-845-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-357-dollar-44-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 65-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….