Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# FlySafair het gebeurlikheidsplanne gereed vir internasionale vlugte weens ‘n lisensiebedreiging
# Die Outomobiel-Assosiasie voorspel ‘n effense daling in petrolpryse in Desember
# En, tennis: Die Davisbekertoernooi beplan ‘n spesiale afskeid vir Rafa in Málaga
# FlySafair stel reisigers met besprekings op internasionale roetes vanaf 29 November en later gerus dat daar gebeurlikheidsplanne is indien sy lisensie opgeskort word. Die Internasionale Lisensiëringsraad vir Lugdienste het bevind die aandeelhouding voldoen nie aan vereistes nie en kan moontlik sy internasionale vlugte strand, insluitend na Mauritius en Zanzibar. FlySafair se aansoek om ‘n dringende interdik om die opskorting te keer, word die 26ste van die maand aangehoor. Hulle raai passasiers aan om reisversekeringspolisse te raadpleeg oor dekking. Binnelandse vlugte word nie geraak nie.
# Die Outomobiel Assosiasie sê Suid-Afrikaanse motoriste kan in Desember ‘n mengelmoes in brandstofprysaanpassings verwag. Die AA se woordvoerder, Eleanor Mavimbela, sê huidige ongeouditeerde data vanaf die Sentrale Energiefonds dui op ‘n daling in petrolpryse, met aansienlike stygings in diesel- en lampoliepryse. Sy sê volgens afleidings van die data sal die prys van loodvrye 95-oktaan-petrol met ongeveer vyf-sent-per-liter daal en loodvrye 93 ‘n geraamde 16-sent-per-liter:
# Limpopo se regering maan ouers om kalm te bly nadat 75 leerders van Dzumeri Primary School gister weens vermeende voedselvergiftiging in die hospitaal opgeneem is. Die leerders het blykbaar melk gedrink, waarna hulle siek geword het. Limpopo se premier se woordvoerder, Thilivhali Muavha, sê slegs elf van die leerders het vir verdere waarneming in die hospitaal oornag en is tans in ʼn bestendige toestand:
# Tennis: Die organiseerders van die Davisbeker-eindronde beplan ‘n spesiale afskeid vir die Spaanse meester Rafael Nadal tydens die toernooi, wat Dinsdag in Málaga, Spanje, begin. Toernooi-direkteur Feliciano Lopez sê hulle is gelukkig om sy goeie vriend se laaste toernooi aan te bied en beplan ‘n afskeid wat sy glinsterloopbaan eer sal aandoen. Lopez sê baie tennis- en ander sportsterre wil dit bywoon. Nadal en sy landgenote, insluitend Carlos Alcaraz en Roberto Bautista Agut, verteenwoordig Spanje in die toernooi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-785-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-568-dollar-82-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-25-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Privaat Chinese keramiekversameling met een-duisend-700-stukke en ‘n geraamde waarde van 23-miljard-rand, is aan die Britse Museum geskenk, wat ‘n rekord vir Britse instellings is. Die museum in Londen se middestad het aangekondig die trustees van die Sir Percival David-stigting het die versameling permanent geskenk sodat dit vertoon kan word. David, wat in 1964 dood is, was ‘n Britse sakeman met ‘n sterk belangstelling in China en die Chinese kultuur. Hy het keramiekstukke uit Europa, Japan, Hongkong en China versamel. Sy versameling is reeds sedert 2009 aan die museum geleen.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….