Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# AfriForum eis die herstel van waterlekkasies voor Gauteng se krane leeg loop
# Asiese markte sluit laer weens kommer oor ‘n moontlike handelsoorlog met Amerika wanneer Trump oorneem
# En, rugby: Sam Cane en Tele’a is uit die All Blacks se groep vir die toets teen Frankryk
# AfriForum eis die Stad Johannesburg moet begin om waterlekplekke te herstel en voortdurend die waternetwerk onderhou. In 2023/’24 het die metro 46,2-persent van die watervoorraad geklassifiseer as nie-inkomste, wat beteken dit gaan verlore weens lekkasies of daar word nie daarvoor betaal nie. Johannesburg Water wil waterverbruik verminder tot 175-liter per persoon per dag. Lambert de Klerk van AfriForum sê die waterkrisis is die gevolg van die ANC se swak munisipale en provinsiale bestuur:
Die Stad Tshwane sê intussen daar is ‘n aansienlike verbetering in die vlakke van die meeste reservoirs nadat sommige verlede week leeggeloop het. ‘n Kragonderbreking by Rand Water se Palmiet-pompstasie het die watervlakke in verskeie reservoirs in die metro laat daal. Woordvoerder Lindela Mashigo sê die watertoevoer na Thatchfield Ridge is herstel, al is die druk nog laag, en die toevoer na dele van Olievenhoutbosch is ook herstel:
# Nuwe regulasies wat in 2025 verwag word, sal vereis dat tradisionele genesers in Suid-Afrika by die Tussentydse Raad vir Tradisionele Gesondheidspraktisyns registreer. Die doel is om tradisionele geneeskunde by die formele gesondheidstelsel in te skakel om pasiëntesorg te verbeter. Sommige genesers het egter kommer uitgespreek oor hoë registrasiefooie en vrese dat Westerse metodes hulle praktyke sal oorskadu. Owerhede sê die nuwe stelsel sal gehalte en aanspreeklikheid in die sektor verbeter.
# Asiese markte het vandag gedaal weens kommer oor die uitwerking van ‘n moontlike handelsoorlog tussen China en Amerika wanneer Donald Trump oorneem as president van Amerika. Dit is vererger deur teleurstelling oor die gebrek aan bykomende maatreëls deur Beijing om sy sukkelende ekonomie ʼn hupstoot te gee. Wall Street het op ʼn nuwe rekord gesluit, aangevuur deur verwagtinge dat Trump beloofde sakevriendelike beleid gaan deurvoer. Amerikaanse beleggers berei hulle voor op nog vier sterk jare wanneer Trump belastings verminder en regulasies verslap, maar hulle Asiese eweknieë vrees ʼn verlammende handelsoorlog.
# Rugby: Oudkaptein Sam Cane en die vleuel Mark Tele’a sal nie Saterdag in Parys vir die All Blacks kan speel teen Frankryk nie. Die flank het ‘n diep sny aan sy kop opgedoen tydens verlede week se oorwinning oor Ierland en dit kan die einde van sy loopbaan beteken, want hy beplan om na die toer uit te tree. Tele’a het sy hand beseer, en die slot Sam Darry is vroeër huis toe met ‘n ernstige kniebesering. Hulle word vervang deur Du’Plessis Kirifi, Chay Fihaki en Fabian Holland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-7-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-336-dollar. Die prys van goud is twee-duisend-595-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 68-dollar-27-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….