Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Suid-Afrikaanse hoëkommissaris versoek dialoog te midde van Mosambiek se groeiende krisis na die verkiesing
# Die Gautengse Onderwysdepartement skort kosverkope op skoolterreine op
# En, tennis: Die seisoen se agt beste mans gaan sake uitspook in die ATP-eindtoernooi in Turyn
# Die Suid-Afrikaanse hoёkommissaris, Siphiwe Nyanda, vra dringende dialoog om die krisis na die verkiesing in Mosambiek op te los. Die Mosambiekse hoofstad, Maputo, is so te sê onder beleg met paaie afgesper en skermutselings wat Suid-Afrika genoop het om die Lebombo-grenspos te sluit. Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap vergader later die maand om verkiesingskwessies in die streek te bespreek. Nyanda het in ‘n verklaring beklemtoon vreedsame onderhandeling is noodsaaklik om verdere onbestendigheid te voorkom en die lande se handels- en veiligheidsbelange te beskerm.
# Die Gautengse Onderwysdepartement het alle skole opdrag gegee om tot verdere kennisgewing die verkope van kos op en rondom skoolterreine op te skort. Dit volg ná ʼn toename in siektevoorvalle wat deur voedsel veroorsaak word. Verlede maand is ses kinders dood nadat hulle lekkernye geëet het wat hulle by ʼn spazawinkel in Soweto gekoop het. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê sodra die skorsing opgehef word, sal skole maatreëls moet instel om kinders se gesondheid en welstand te beskerm:
# Die Akani-aftreefonds-administrateurs sê hy het meer as 102-miljoen-rand aan tweepot-eise uitbetaal vir die Munisipale Werknemers-pensioenfonds. Eise vir die tweepot-aftreestelsel het op 16 September begin. ʼn Woordvoerder van die fonds, Mathawe Matsapola, sê hulle is trots op hierdie prestasie:
# Tennis: Die topgekeurde plaaslike held, Jannik Sinner, Daniil Medvedev van Rusland, die Amerikaner Taylor Fritz en die Australië Alex de Mineur gaan sake uitspook in die Ilie Nastase-groep wanneer die ATP-eindtoernooi Sondag in Turyn, Italië, begin. Die tweede gekeurde Duitser, Alexander Zverev, kom teen die Spanjaard Carlos Alacaraz, die Noorweër Casper Ruud en die Rus Andrey Rublev te staan in die John Newcombe-groep. Die seisoen se agt beste spelers ding mee in ‘n rondomtalie-fase en die twee voorste spelers in elke groep sal na die halfeindronde deurdring.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-43-sent teen die dollar, 18-rand-80-sent teen die euro en 22-rand-60-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 75-duisend-862-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-690-dollar-29-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-68-sent per vat.
# En ten slotte: Die Johannesburgse Bach-koor spog met ‘n paar nuwe jong gesigte op hulle komende konsert in die St Johns College-kapel in Houghton die 17de van die maand. Die nuweling Monde Ngwane sal ‘n solo lewer. Die geleentheid is ook die laaste keer dat die uittredende musiekdirekteur, Tim Roberts, die koor sal dirigeer. Hy het die koor die afgelope 15 jaar gelei. Die eerste konsert van die koor is op 1 September 1964 in Bramley gehou.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….