Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu veroordeel apartheidsvlae by die BELA-optog
# Donald Trump beskryf die verkiesing as Amerika se goue era vir grootsheid
# En, tennis: 256-miljoen-rand is op die spel in die ATP-eindtoernooi
# Cosatu sê hy veroordeel die mense wat gister se optog teen die Wysigingswet op Basiese Onderwyswette in Pretoria gebruik het om ou apartheidsvlae te vertoon. Die DA, AfriForum, Solidariteit en ander organisasies het betoog teen die BELA-wet. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê die Menseregtekommissie moet ‘n ondersoek doen en die persone aanspreeklik hou, want die wet gaan nie oor ras nie:
# ActionSA sê hy het ‘n amptelike voorlegging aan die Verkiesingsoorsig-raadplegingspaneel gedoen om ‘n alternatiewe verkiesingsraamwerk vir Suid-Afrika voor te stel. Dit sluit in die verhoging van kiesersopkoms, openbare verteenwoordigers van beter gehalte en die instelling van blywende aanspreeklikheid. ActionSA se nasionale voorsitter, Michael Beaumont, sê ná 30 jaar van demokrasie moet die nasionale projek beweeg na groter vlakke van aanspreeklikheid en die gehalte van openbare verteenwoordigers verhoog:
Nou nuus oor die Amerikaanse verkiesing:
# Die Republikeinse kandidaat, Donald Trump, beskryf hierdie verkiesingsveldtog as Amerika se goue era om nasionale grootsheid te herstel. Trump het sy stem uitgebring en daarna die veldtog beskryf as die grootste politieke beweging van alle tye. Hy het ook beklemtoon die land moet genees. Trump loop tans voor met 51,2-persent van die stemme teenoor die Demokraat Kamala Harris se 47,4-persent. Hy onderneem om sleutelkwessies vir Amerika se toekoms aan te pak:
# Betogings het buite die ampswoning van Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, uitgebreek nadat hy die minister van Verdediging, Yoav Gallant, afgedank het. Netanyahu sê hy het vertroue in Gallant verloor weens sy bestuur van die oorloë in Gaza en Libanon. Gallant sê hy is oor drie dinge afgedank, naamlik die kwessie van ultra-Ortodokse militêre diens, die gyselaars wat steeds in Gaza aangehou word, en die behoefte aan ʼn amptelike ondersoek na Hamas se 7 Oktober-aanval. Hy word vervang deur die minister van Buitelandse Sake, Israel Katz.
# Tennis: Die seisoen se agt beste mans-enkelspelers en dubbelspare gaan meeding om algehele prysgeld van 265-miljoen-rand in die ATP-eindtoernooi wat Sondag in Turyn, Italië, begin. Die enkelspel-kampioen sal 85-miljoen-rand wen as hy die toernooi onoorwonne afsluit, en 39-miljoen-rand as hy ‘n wedstryd verloor het op pad na die eindstryd. Die agt spelers word in die rondomtale-ronde in twee groepe verdeel en die boonste twee in elke groep dring deur na die halfeindronde. Die eindstryd vind volgende Sondag plaas.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 18-rand-95-sent teen die euro en 22-rand-73-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 73-duisend-308-dollar-30-sent. Die prys van goud is twee-duisend-728-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-17-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….