Nuus 13:00
BULLETIN 2 November 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die slagoffers van die Bityi-massamoord word ter ruste gelê
# Die premier van KwaZulu-Natal sê massamoorde is ‘n doring in die vlees van gesamentlike misdaadbestrydingspogings
# En, motorsport: Piastri spring voor weg in snelren in Brasilië
# Vyf lede van die Seti-familie wat in die dorpie Ncenjana in die Oos-Kaap doodgeskiet is, is vandag ter ruste gelê. Die woordvoerder van die provinsiale regering, Khuselwa Rantjie, sê die diens was ‘n geleentheid vir oordenke, herinnering en solidariteit met die familie en vriende van die slagoffers. Sy sê die tragedie is deel van ‘n ontstellende tendens en beklemtoon die noodsaakllikheid om geweldsmisdade aan te spreek:
Intussen het die premier van KwaZulu-Natal Thamsanqa Ntuli gesê die massamoorde in die provinsie is ‘n doring in die vlees van gesamentlike misdaadbestrydingspogings. Hy prys ook die polisie vir die inhegtenisneming van diegene wat betrokke is by die massamoorde op families. Sulke massamoorde is onlangs gepleeg in Hlokozi, naby Highflats, in Bergville en in Matimatolo naby Greytown. Ntuli sê gemeenskapsleiers, sakeondernemings en inwoners word aangemoedig om saam met die polisie te werk om veiliger gemeenskappe te skep:
# Die DA in Johannesburg eis die ontbinding van die Johannesburgse Waterraad weens die voortslepende waterkrisis in die stad. Hoewel hulle die onderneming van burgemeester, Dada Morero, verwelkom om een-miljard-rand by die begroting vir Johannesburg Water te voeg, is hulle van mening nog dringende optrede is nodig. DA-woordvoerder Nicole van Dyk vra vir aanspreeklikheid van leiers van die stad en wil hê die raadslede moet deeglike oudits ondergaan om behoorlike bestuur van waterbronne te verseker.
# Nog 500 soldate word ontplooi in die Valencia-streek van Spanje na hierdie week se katastrofiese oorstromings. Meer as 200 mense is reeds dood, met die meeste sterfgevalle in en om Valencia, maar die dodetal sal na verwagting verder styg. Die BBC berig die nuwe troepe sal broodnodige swaar masjienerie, stootskrapers en vragmotors bring en help om die spoed en organisering van die reddingspogings te verbeter. Plaaslike owerhede word gekritiseer oor die spoed van die reaksie en die gebrek aan waarskuwings voor die vloede.
# En motorsport: Oscar Piastri het gister die voorste wegspringposisie ingepalm vir die snelren by die Brasiliaanse Grand Prix. Hy sê hy sal jaag om te wen, maar gee toe sy spanmaat Lando Norris het die punte meer nodig. Norris is 47 punte agter die driemalige wêreldkampioen Max Verstappen van Red Bull in die stryd om die kampioenskapstitel, met vier wenrennaweke oor in hierdie seisoen. Verstappen, is met vyf plekke gestraf vir môre se Grand Prix na nog ‘n nuwe enjin, sy sesde hierdie jaar. Hy het vierde gekwalifiseer agter die McLarenjaers en Charles Leclerc van Ferrari.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….