Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 31 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Jacob Zuma se ANC-tugverhoor vind môre plaas
# Media24 sluit belangrike gedrukte uitgawes na die goedkeuring van die Mededingingskommissie
# En rugby: Die slot Ben Carter onttrek aan Wallis se groep vir die November-toetse weens ‘n kniebesering
# Die Jacob Zuma-stigting sê oudpresident Jacob Zuma se appèlverhoor voor die ANC se nasionale dissiplinêre appèlkomitee is vir môre geskeduleer. Die ANC het Zuma uitgeskop omdat hy die MK-party lei. Die appèl sal aanlyn gehou word, al wou Zuma dit nie so gehad het nie. Die stigting se woordvoerder, Mzwanele Manyi, sê Zuma se verteenwoordiger, Tony Yengeni, beplan om ‘n openbare verhoor te versoek en om eers net aandag te gee aan ‘n paar ander voorlopige kwessies.
# Media24 sluit belangrike gedrukte uitgawes nadat die Mededingingskommissie toestemming verleen het vir die verkoop van On the Dot, Soccer Laduma en ander bates aan Novus Holdings. Die gedrukte uitgawes van Beeld, Rapport, City Press en Daily Sun word teen 31 Desember gestaak en sommige titels verskuif eksklusief aanlyn. Die tussentydse uitvoerende hoof, Raj Lalbahadur, beklemtoon Media24 se verbintenis tot volhoubare digitale joernalistiek te midde van veranderende verbruikersneigings. Daar is aanvanklik beplan vir die verlies van 400 poste, maar die besnoeiing van redaksionele personeel is later laat vaar.
# Die Departement van Water en Sanitasie het opnuut sy verbintenis bevestig om klimaatsverandering en die invloed daarvan op waterbronne en sanitasiedienste in die land aan te pak. Volgens die Verenigde Nasies se Wêreldinstituut vir Navorsing oor Ontwikkelingsekonomie sal klimaatsverandering teen 2050 die beskikbaarheid van water oor byna die hele Suid-Afrika raak. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê hulle besef die dringendheid om oor te skakel na ‘n lae-koolstof-, klimaatbestande ekonomie:
# Die GOOD-party versoek die regering om die humanitêre voorstanders vir Palestina teen onlangse smeerveldtogte te beskerm. Hulle het die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Joodse Raad van Afgevaardigdes, Lawrence Nowosenetz, veroordeel omdat hy die stigter van Gift of the Givers, Imtiaz Sooliman, en sy organisasie daarvan beskuldig dat hulle groepe befonds wat deur die Verenigde State as terroriste beskou word. Die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, vra die regering om mense met verskillende sienings oor Israel te verdedig en pogings te ondersteun om Israel aanspreeklik te hou vir sy optrede in Gaza:
# Rugby: Die slot Ben Carter is weens ʼn kniebesering vrygestel van Wallis se groep vir die toetse in November. Hy het al in 12 toetse gespeel en was ʼn aanspraakmaker om in die wedstrydgroep ingesluit te word vir die eerste toets teen Fidji in Cardiff op 10 November. Carter word vervang deur die voorspeler van Cardiff, Teddy Williams, wat sy toetsbuiging in 2023 teen Suid-Afrika gemaak het in ʼn opwarmingswedstryd vir die Wêreldbekertoernooi. Wallis het 13 maande laas ʼn toets gewen toe hulle Georgië geklop het en speel ook teen Australië en Suid-Afrika.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 19-rand-26-sent teen die euro en 23-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 72-duisend-244-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-778-dollar-8-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….