Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 29 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is…….
In die bulletin:
# Die Regterlike Dienskommissie beveel ’n ampsklag-ondersoek aan na oudhoofregter Mogoeng Mogoeng
# Minister Gwarube vra die regering om voorrang te gee aan onderwysbefondsing te midde van begrotingsbesnoeiings
# En, tennis: Carlos Alcaraz sê die prysgeld het hom na die Six Kings Slam-toernooi in Saoedi-Arabië gelok
# Die gedragskomitee van die Regterlike Dienskommissie beveel ‘n ampsklagondersoek aan na oudhoofregter Mogoeng Mogoeng. Dit volg op bewerings deur die voormalige regterpresident van die Wes-Kaap, John Hlophe, dat Mogoeng in die geheim ‘n vergadering met adjunkregterpresident Patricia Goliath gehou het oor beskuldigings van wangedrag teen Hlophe. Die komitee sê indien dit waar is, kan dit dui op oneerlikheid, wat die reputasie van die regbank skaad. Die kleiner, nie-politieke groep van die RDK sal besluit of die ondersoek voortgaan. Mogoeng ontken intussen dat hy verkeerd opgetree het.
# Die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, vra die regering om voorrang te gee aan onderwysbefondsing terwyl die minister van Finansies, Enoch Godongwana, sy mediumtermynbegroting voorberei. Gwarube waarsku voorgestelde begrotingsbesnoeiings kan veroorsaak dat twee-duisend-400 onderwysposte in 2025 in die Wes-Kaap verlore gaan en die gehalte van onderwys bedreig. Sy het LUR’e ook gevra om verkwistende uitgawes te beperk en hul onderwysverpligtinge na te kom:
# Die DA versoek die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap om ‘n onafhanklike hertelling van Mosambiek se onlangse presidentsverkiesing te eis. Hulle beweer die proses is deur wydverspreide ongerymdhede en politieke geweld gekenmerk, wat twyfel laat ontstaan oor die geldigheid van die amptelike oorwinning van Daniel Chapo van Frelimo. Emma Louise Powell van die DA sê berigte van stempeutery, intimidasie en die sluipmoord op belangrike opposisie-raadgewers het kommer oor die stand van die demokrasie in Mosambiek verhoog:
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje sê die rekord-prysgeld in die Six Kings Slam-toernooi in Saudi-Arabië vroeër die maand het hom gelok. Die Italianer Janik Sinner het aantygings verwerp dat hy aan die vertoontoernooi deelgeneem het vir finansiële gewin, en beklemtoon hy is na Riaad vir die sport-uitdaging. Alcaraz het egter erken dat die finansiële aspek ‘n rol gepeel het, omdat hy binne vier dae meer as 26-miljoen rand verdien het. Hy sê hoewel hy meestal vir die liefde van die spel speel, moet hy ook aan geld dink.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 71-duisend-221-dollar-26-sent. Die prys van goud is twee-duisend-755-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Vrou wat alleen op ‘n staptog in Australië se Snowy Mountains vermis geraak het, is verward en beseer gevind nadat ‘n slang haar vermoedelik gepik het. Sy was byna twee weke vermis en owerhede het ses dae lank na haar gesoek. Die 48-jarige Lovisa Sjoberg is op ‘n staproete in die Kosciuszko Nasionale Park, suidwes van die hoofstad, Canberra, gevind. Die polisie sê dis ‘n wonderwerk sy het oorleef nadat ‘n giftige koperkop-adder haar vermoedelik gepik het. Die slang se byt is uiters pynvol en potensieel dodelik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….