Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 28 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Terbufos-chemikalie word gekoppel aan die sterftes van ses leerders van Naledi in Soweto
# Cosatu vra die regering om ‘n progressiewe mediumtermynbegroting ter tafel te lê
# En, rugby: Die Wallabies speel volgende jaar in Perth teen die All Blacks na die groot belangstelling in die toets teen die Springbokke
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het aangekondig ‘n toksikologieverslag het bevestig ‘n organofosfaat-chemikalie, Terbufos, het die dood van ses kinders in Naledi, Soweto, veroorsaak. Die leerders het vroeër die maand siek geword nadat hulle versnaperings geëet het wat by ‘n plaaslike spaza-winkel gekoop is. Motsoaledi sê lykskouings-monsters het bevestig die chemikalie is in die kos gevind. Hy sê in hierdie stadium is daar geen vasgestelde verbintenis met die winkel nie, terwyl verdere ontleding aan die gang is:
# Cosatu sê ‘n groeiende ekonomie en werkers in poste sal die belastinginkomste skep wat die staat benodig om sy grondwetlike ontwikkelingsmandaat te befonds en sy skuldvlakke te verminder. Die vakbondfederasie het sy verwagtings bekend gemaak voor Woensdag se mediumtermyn-begrotingsbeleidsverklaring. Matthew Parks van Cosatu sê hoewel hulle die talle eise erken waarmee die staat te kampe het, moet die regering hulpbronne vir sleutelprogramme beskikbaar stel wat groei sal ontsluit, verligting vir armes bring en werk skep:
# Die ANC het sy teenkanting uitgespreek teen enige verhoging in kragtariewe. Die voorsitter van die party se Ekonomiese Transformasiekomitee, Mmamaloko Kubayi, het tydens ‘n nuuskonferensie op die nasionale uitvoerende komitee se vergadering in Boksburg benadruk dat krag bekostigbaar moet bly. Sy het die party se verbintenis tot die beskerming van huishoudings en die bestendiging van die sektor benadruk deur toe te sien dat kwesbare Suid-Afrikaners gesubsidieer word om stygende kostes in toom te hou:
# Rugby: Die Wallabies speel volgende jaar ‘n Bledisloebeker-toets teen die All Blacks in Perth, en teen die Pumas in Townsville en Sydney in die Rugbykampioenskap. Die toets teen Nieu-Seeland op 4 Oktober sal net die derde Bledisloebekertoets wees wat in Perth gespeel word, en Townsville bied op 6 September die eerste keer in vier jaar ‘n toets aan. Rugby Australië sê hulle het besluit om volgende jaar in Perth teen die All Blacks te speel na dié jaar se oorweldigende belangstelling in die toets teen die Springbokke.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-6-sent teen die euro en 22-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 68-duisend-298-dollar-46-sent. Die prys van goud is twee-duisend-732-dollar-74-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-91-sent per vat.
# En ten slotte: Dis-Chem beplan om in die eerste kwartaal van 2025 sy lewensversekeringsonderneming van stapel te stuur, wat hom sal posisioneer as ‘n groot ontwrigter in die Suid-Afrikaanse mark. Uitvoerende hoof Rui Morais beklemtoon die kleinhandelaar se unieke insig in die gesondheidsverbruik-gevare deur sy apteke en klinieke, wat hom in staat stel om produkte teen mededingende pryse aan te bied. Dis-Chem beraam planne vir byna tien verskillende versekeringsaanbiedings om polishouers te lok, veral dié met chroniese siektes, terwyl kopers na sy winkels aangetrek word om sy winsgrense te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….