Nuus 13:00
BULLETIN 12 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Tau sê die regering werk om uitvoermarkte uit te brei
# Minister Steenhuisen sê Amerika trek goeie voordeel uit Suid-Afrika se landbou-uitvoere
# En rugby: Etzebeth speel Saterdag sy 134ste toets vir Suid-Afrika
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, sê die noodsaaklikheid om uitvoermarkte te diversifiseer, was nog nooit dringender as in die huidige ekonomiese klimaat nie. Die regering het na die eensydige instelling van die onlangse Amerikaanse tariewe van 30-persent ‘n meervlakkige reaksie in werking gestel om die nadelige uitwerking op die ekonomie teen te werk. Tau sê hulle versnel pogings om nuwe internasionale markte buite Amerika te verken:
Die minister van Landbou, John Steenhuisen, beklemtoon intussen dat Suid-Afrikaanse handel met Amerika wedersyds-voordelig is en sê Amerika word bevoordeel deur Suid-Afrika se landbou-uitvoere. Hy sê baie van die produkte word in ander seisoene geproduseer en hou geen bedreiging vir Amerikaanse produksie in nie:
# Ouers en voogde in die Wes-Kaap het net ‘n paar dae oor om aansoek te doen vir skool-oorplasings. Die proses het net betrekking op leerders in graad 2 tot 7 en graad 9 tot 12 wat reeds by ʼn skool ingeskryf is, maar na ʼn ander skool oorgeplaas moet word. Die DA se provinsiale woordvoerder vir Onderwys, Leon van Wyk, sê as ouers betyds optree, laat dit die provinsiale Onderwysdepartement toe om onderwysers, hulpbronne en infrastruktuur doeltreffend toe te ken:
# Rugby: Die Springbok-slot Eben Etzebeth sal opskuif na gesamentlik tiende op die lys van mees ervare toetsveterane wanneer hy Saterdag op Ellispark opdraf in die Rugbykampioenskapswedstryd teen Australië. Sy rekord van die meeste toetse vir Suid-Afrika skuif dan op na 134 – gelyk met die Walliese stut, Gethin Jenkins. Etzebeth en Lood de Jager is die slotte, met Franco Mostert wat van die bank af opkom. Die ander lede van die “bomb squad” is Bongi Mbonambi, Jan-Hendrik Wessels, Asenathi Ntlabakanye en Kwagga Smith.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-69-sent teen die dollar, 20-rand-55-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-650-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-349-dollar-62-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-45-sent per vat.
# En ten slotte: Die 14-malige Grammy-wenner, Taylor Swift, het bewonderaars verras met die nuus dat sy haar 12de ateljee-album, The Life of a Showgirl, gaan vrystel. Die 35-jarige sangeres het in April verlede jaar ʼn ateljee-album, The Tortured Poets Department, vrygestel wat die beste verkoper van die jaar was. Sy het haar Eras-toer wat rekords laat spat het, in Desember afgesluit. Die nuwe album is Swift se eerste vrystelling sedert sy in Mei die trotse eienaar van haar hele musiek-katalogus geword het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….