Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 25 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid ondersteun NATJOINTS se standpunt oor voedselvergiftiging as sekerheidsbedreiging
# Wes-Kaapse boere staar verliese in die gesig weens vertragings in hawens
# En, rugby: Bok-agsteman lei die Bulle teen Benetton in Treviso
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, ondersteun die Nasionale Gesamentlike Operasionele en Intelligensiestruktuur se standpunt wat voedselvergiftiging as ‘n nasionale sekerheidsbedreiging klassifiseer. Dit volg op verskeie voorvalle in ‘n aantal provinsies. In die mees onlangse geval is 24 leerders van Enzani Primary in Matsulu, Mpumalanga, hospitaal toe gehaas weens vermeende voedselvergiftiging. Motsoaledi het aan die SABC gesê die owerhede, insluitend die Departement van Landbou, ondersoek die voorvalle:
# Onbevoegdheid op die Kaapstadse hawe kos Wes-Kaapse appel- en peerboere jaarliks 26-duisend-rand per hektaar. Dit het gelei tot verliese van byna ‘n miljard-rand in die landbousektor. Boere sukkel met vertraagde verskeping wat hulle beeld as betroubare internasionale verskaffers in gevaar stel. Die vrugte-uitvoerseisoen lê voor en kenners waarsku dis noodsaaklik dat verbeterings betyds plaasvind om mense se lewensbestaan te beskerm. Die bekendstelling van 47 nuwe vervoerders en Transnet se herstelplan is daarop gemik om die probleme te bekamp, maar boere bly bekommerd oor die toekoms.
# Die Stad Johannesburg en die Franse Ontwikkelingsagentskap het ʼn ooreenkoms van verstandhouding onderteken om hulle vennootskap te hernu. Die stad se woordvoerder, Nthatisi Modingoane, sê die ooreenkoms lei ʼn nuwe fase van die agentskap en die stad se samewerking oor 20 jaar in. Hy sê dit fokus op volhoubare stedelike ontwikkeling deur ruimtelike hervorming, vermindering van ongelykhede en bevordering van ʼn klimaatsoorgang:
# Geweld het toegeneem in Haïti se hoofstad, Port-au-Prince. ʼn Helikopter van die Verenigde Nasies is deur geweervuur getref en twee bendes teiken blykbaar voertuie van die Amerikaanse ambassade. CNN berig die aanvalle en ʼn toename in bende-bedrywighede naby die ambassade het amptenare laat besluit om tot 20 diplomatieke personeel uit die hoofstad te verwyder. Bendes in Haïti beheer groot dele van die hoofstad en die voortslepende geweld die afgelope jare het meer as 700-duisend Haïtiane dakloos gelaat. Die VN berig drie-duisend-661 mense is sedert Januarie vanjaar vermoor.
# Rugby: Die Springbok-agtsteman, Elrigh Louw, sal die Bulle in vanaand se Verenigde Rugbykampioenskapwedstryd teen Benetton in Treviso aanvoer nadat hy van harsingskudding herstel het. Die veteraan Marcell Coetzee en die opkomende ster Reinhardt Ludwig vorm saam met hom die lostrio. Ludwig het die span verlede week aangevoer toe hulle teen Scarlets verloor het na die Bok-haker Johan Grobbelaar se rooikaart, wat na die wedstryd na geel verander is. Grobbelaar en Louw vertrek Sondag saam met die Bokke na Europa voor hulle toetse teen Skotland, Engeland en Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-12-sent teen die euro en 22-rand-93-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-576-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-719-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-52-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….