Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 24 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Zizi Kodwa en Johan Mackay se korrupsiesaak word uitgestel vir oorweging van hulle aansoek om die klagtes te laat vaar
# Cosatu sê die onderhandelings oor Arbeidswet-hervormings moet in goeie trou plaasvind
# En rugby: Johan Grobbelaar en Wilco Louw word opgeroep vir die Bokke se toer volgende maand
# Die korrupsiesaak van die voormalige minister van Sport, Zizi Kodwa, en die gewese uitvoerende hoof van EOH, Johan Mackay, is in die Landdroshof in Palm Ridge, Gauteng, tot 1 November uitgestel. Dit sal die Direkteur van Openbare Vervolgings in staat stel om aansoeke te oorweeg om aanklagte teen die beskuldigdes te laat vaar. Die saak spruit uit die bevindings van die Zondo-kommissie dat uitbetalings van 1,68-miljoen-rand tot Kodwa se voordeel gedoen is. Die NVG se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê die beraadslagings het begin:
# Cosatu sê onderhandelings oor Arbeidswet-hervormings by Nedlac in Johannesburg is vir miljoene werkers baie sensitiewe kwessies. Die vakbondfederasie glo die onderhandelings moet toegelaat word om in goeie trou plaas te vind en die versoeking moet vermy word om die buitewêreld te beïndruk. Woordvoerder Matthew Parks verwelkom belangrike progressiewe voorstelle om werkers se regte te verbeter. Hy sê dit sluit in a-tipiese werkers, die beskerming van die waarde van die nasionale minimumloon en die verbetering van voorsienings vir werkers tydens afleggings:
# Die African Transformation Movement het die Openbare Beskermer gevra vir ‘n ondersoek na die toename in voedseloordraagbare siektes wat verband hou met die verkoop van goedere wat reeds verval het of bederf is. Gevalle van voedselvergiftiging is in Gauteng, Limpopo en die Noord-Kaap aangemeld, met ses sterftes in Gauteng. Die ATM se woordvoerder, Zama Ntshona, sê die voortdurende krisis lei tot lewensverlies, veral onder kinders:
# Die Universiteit Stellenbosch en die Vereniging vir die Bevordering van Wilgenhof-inwoners het ‘n ooreenkoms bereik oor die universiteit se besluit om volgende jaar die geskiedkundige Wilgenhof-manskoshuis te sluit. Die vereniging het ‘n hofinterdik aangevra om die sluiting te verhoed, wat die universiteitsraad toeskryf aan onaanvaarbare, geheimsinnige inlywingsgebruike. Inwoners van Wilgenhof kan as deel van die ooreenkoms gedurende opknappings saam in ‘n ander koshuis woon en terugkeer in die tweede termyn. Albei partye is verbind tot vernuwing en hervorming wat ’n verandering teenoor gebruike van vroeër verteenwoordig.
# Rugby: Johan Grobbelaar en Wilco Louw is opgeroep om by die Springbok-groep aan te sluit vir volgende maand se toer. Dit volg nadat die voorspeler Jan-Hendrik Wessels weens ‘n besering onttrek het. Hy het verlede Saterdag sy enkel beseer in die Bulle se Verenigde Rugbykampioenskap-kragmeting met Scarlets. Grobbelaar en Louw se insluiting vergroot die groep tot 35 spelers, bestaande uit 19 voor- en 16 agterspelers. Afrigter Rassie Erasmus sê hy is opgewonde om te sien hoe die twee presteer teen gehalte-teenstanders in Skotland, Engeland en Wallis.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-66-sent teen die dollar, 19-rand-7-sent teen die euro en 22-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-889-dollar-8-sent. Die prys van goud is twee-duisend-738-dollar-49-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-20-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….