Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 23 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Inflasie daal tot 3,8-persent, wat die weg baan vir ‘n rentekoersverlaging volgende maand
# ‘n Suid-Afrikaans-gebore kolwer slaan ‘n wêreldrekord van 200 van net 103 aflewerings in plaaslike krieket
# En 64-persent van Gauteng se inwoners is bekommerd dat hul water gaan opraak te midde van die huidige waterkrisis
# Suid-Afrika se inflasiekoers het verlede maand tot 3,8-persent gedaal, van 4,4-persent in Augustus, die laagste vlak sedert vroeg-2021. Dit is die vierde agtereenvolgende maand dat inflasie daal, hoofsaaklik as gevolg van laer vervoerkoste nadat brandstofpryse vanaf verlede jaar met nege-persent gedaal het. ‘n Woordvoerder van Statistieke Suid-Afrika, Patrick Kelly, sê die daling het verwagtinge van ‘n rentekoersverlaging van 25-basispunte laat opvlam wanneer die Reserwebank se Monetêre Beleidskomitee volgende maand vergader:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag verwelkom die vonnis van 25 jaar vir Onthatile Sebati, wat in 2016 die moord op haar ouers, swanger suster en broer in Mmakau, Noordwes, beplan en laat uitvoer het. Die Hooggeregshof in Pretoria het ook haar twee neefs, Tumelo en Kagiso Mokone, elk tot vier keer lewenslank gevonnis. Volgens NVG-woordvoerder, Lumka Mahanjana, het Sebati in 2021 gebieg nadat sy haar neefs 100-duisend-rand met polisuitbetalings vergoed het:
# Die Suid-Afrikaanse Lugdiens is vol vertroue hy kan ‘n geskil met die Zimbabwiese Ministerie van Omgewing besleg, wat beslag wil lê op bates van meer as 42-miljoen-rand vir onbetaalde Weerdiensfooie. Volgens Business Day skuld die regering van Zimbabwe die lugredery glo sedert 2016 meer as ‘n miljard-rand aan geblokkeerde fondse. Uitvoerende hoof, John Lamola, sê die ministerie tree ontwrigtend op en het voorgestel die skuld word verreken, maar dis verwerp. Volgens hom is die SAL steeds oop vir ‘n gesprek en vertrou om binnekort ’n vriendskaplike oplossing te bereik.
# Krieket: Die Suid-Afrikaans-gebore Nieu-Seelander Chad Bowes het die wêreldrekord verbeter vir die vinnigste dubbele honderdtal in Lys A-krieket toe hy 200 van net 103 balle aangeteken het. Die kolwer van Canterbury het die prestasie behaal gedurende ʼn wedstryd teen Otago in Christchurch. Hy het daarmee die vorige rekord verbeter van die Suid-Australiese kolwer Travis Head teen Queensland in 2021. Bowes is uitgehaal vir 205 van 110 balle, na sewe sesse en 27 viere. Die 32-jarige is gedurende sy kolfbeurt gereeld behandel vir ontwatering en ʼn seer rug.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-62-sent teen die dollar, 19-rand-1-sent teen die euro en 22-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 66-duisend-271-dollar-81-sent. Die prys van goud is twee-duisend-753-dollar-5-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 75-dollar-37-sent per vat.
# En ten slotte: Ongeveer 64-persent van Gauteng se inwoners is bekommerd dat hul water gaan opraak te midde van die huidige waterkrisis. Dit is volgens die Gauteng City-Region Observatory se sewende lewensgehalte-meningspeiling. Die 36-persent deelnemers wat daagliks of weekliks wateronderbrekings beleef, is ontevrede met hul waterlewering teenoor slegs agt-persent wat selde wateronderbrekings beleef. Die organisasie sê die provinsie hanteer probleme met watersekerheid. Dit sluit in dat eise vir beperkte waterbronne gebalanseer word, dat alle inwoners toegang tot water het, en besoedeling hanteer word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….