Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 18 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika eis volgens berigte dat Taiwan sy kantoor in Pretoria sluit
# Die DA in Gauteng sê die Gesondheidsdepartement se finansiële wanbestuur wek kommer
# En, rugby: Toeskouers word aangemoedig om Kaapstad se MyCiTi-busdiens na die wedstryd tussen die Stormers en Munster te gebruik
# Die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking het volgens berigte onder druk van die Chinese regering geëis dat Taiwan sy kantoor in Pretoria sluit. Soos die meeste lande erken Suid-Afrika Taiwan nie amptelik as ‘n aparte staat naas China nie. Volgens die Daily Maverick weier Taiwan om dit te doen en dreig om opvoedkundige uitruiling op te skort, strenger visumvereistes vir Suid-Afrikaners in te stel en te eis dat die land sy kantoor in Taipei sluit.
# Die DA in Gauteng sê die wanbestuur en gebrek aan finansiële en prestasie-oorsig in die provinsiale Gesondheidsdepartement het ʼn regstreekse uitwerking op die gehalte van gesondheidsorg. Die LUR vir Finansies, Lebogang Maile, het onlangs gewaarsku die provinsie gaan bankrot speel as die departement nie daarin slaag om sy ongebreidelde administratiewe en finansiële wanbestuur te beheer nie. Alan Fuchs van die DA sê die departement se materiële verlies van 2,7-miljard-rand word toegeskryf aan sy versuim om skuld in te vorder:
# Die onderwys-aktivis Hendrick Makaneta eis ‘n dringende ondersoek na bewerings van seks-vir-punte by die Mangosuthu Universiteit vir Tegnologie in KwaZulu-Natal. Hy sê die skandaal onthul ernstige magsmisbruik en uitbuiting binne die akademiese omgewing. Makaneta beklemtoon die noodsaaklikheid vir aanspreeklikheid en hervorming om vertroue onder studente en die gemeenskap te herstel. Hy vra onmiddellike optrede:
Facebook en Instagram se moedermaatskappy Meta, het intussen nuwe maatreëls aangekondig om seksafdreiging te bekamp. Dis ‘n soort aanlyn afpersing waar misdadigers slagoffers, dikwels tieners, oorreed om seksueel-eksplisiete foto’s van hulself te stuur. Die maatreëls sluit in strenger beheer oor wie tienerrekeninge kan volg of boodskappe kan stuur en veiligheidskennisgewings in regstreekse boodskappe in Instagram en Facebook Messenger oor enige verdagte gesprekke. Die maatreëls versterk Instagram se tiener-rekeninge wat verlede maand aangekondig en ontwerp is om minderjarige gebruikers beter te beskerm teen die gevare daaraan verbonde om foto’s op die toepassing te deel.
# Rugby: Sowat 30-duisend toeskouers sal na verwagting môre die Verenigde Rugbykampioenskapswedstryd tussen die Stormers en Munster in die Kaapstad-stadion bywoon. Die Stormers speel hulle eerste tuiswedstryd van die VRK se 2024/’25-seisoen ná hulle toer van drie wedstryde in Europa. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die Stad Kaapstad bied gratis MyCiTi-pendelbusdienste vir rugbykaartjiehouers aan:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-59-sent teen die dollar, 19-rand-8-sent teen die euro en 22-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 67-duisend-927-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-710-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-60-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….