Nuus 13:00
BULLETIN 11 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die president en ministers kan persoonlike koste-eise verwag weens die ineenstorting van ‘n munisipaliteit in Noordwes
# Die Tshwane-metropolisie se hoof word ondersoek oor ‘n vermeende kontantgeskenk
# En rugby: Rassie sê die Bokke is slaggereed vir die Wallabies
# Sakeliga waarsku hy sal persoonlike koste-eise teen president Cyril Ramaphosa en sy ministers instel as hulle nie optree om die ineenstorting van die Ditsobotla-munisipaliteit in Noordwes te verhoed nie. Uitvoerende hoof Piet le Roux sê die nasionale regeirng het sy grondwetlike pligte ignoreer ondanks versoeke van die LUR vir Samewerkende Regering, Oageng Molapisi. Nodige dienste soos water en elektrisiteit het ineengestort. Le Roux sê Ramaphosa het tot Vrydag om in te gryp:
# Die hoof van Tshwane se metropolisie, Yolande Faro, word daarvan beskuldig dat sy nie ‘n groot kontantgeskenk verklaar het nie. Faro, haar senior amptenare en hul metgeselle is in Februarie uitgenooi na ʼn fees by die Sun City-oord in Noordwes. Hulle het volgens berigte sowat 450-duisend-rand as geskenk ontvang. Dis nie bevestig of die geld verklaar is nie. Die metro se woordvoerder, Lindela Mashigo, sê ʼn interne proses is aan die gang en voeg by hulle sal seker maak daar is volle aanspreeklikheid en deursigtigheid.
# Die Nasionale E-taxi-federasie vra die regering om dringend in te gryp om regulasies vir die sektor te bespoedig en bestuurders te bemagtig. Die federasie beraadslaag tans met die betrokke rolspelers om ʼn nasionale bemagtigingsraamwerk vir e-taxibestuurders saam te stel. Woordvoerder Omar Parker sê 91-persent van operateurs en bestuurders is nie by statutêre instellings soos die Vergoedingsfonds en Werkloosheids-versekeringsfonds geregistreer nie:
# Rugby: Die Springbok-afrigter Rassie Erasmus is vol vertroue dat sy span hul huiswerk gedoen het vir die Wallabies se Rugbykampioenskaps-toer in Suid-Afrika. Dit volg op ‘n intensiewe oefen- en kondisioneringskamp van twee weke in Johannesburg. Die Bokke sal die Wallabies Saterdag op Ellispark pak en weer volgende naweek in Kaapstad. Erasmus beklemtoon die belangrikheid van hul voorbereiding om die mededingendheid van die Wallabies, die All Blacks en die Pumas te ewenaar. Hy is tevrede met die werk wat die spelers ingesit het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 121-duisend-325-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-360-dollar-64-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-23-sent per vat.
# En laastens, die Suid-Afrikaanse regisseur Ryan Kruger se uitdagende wetenskapfiksie-riller-komedie Street Trash wys nou in plaaslike teaters. Dis ‘n ongebonde opvolg van die 1987-kultusrolprent met dieselfde titel. Dit speel in 2050 in Kaapstad af waar hawelose wanaangepastes ‘n sameswering onthul om armes in ‘n geheimsinnige chemikalie bekend as “V” op te los. Die rolprent het gehore wêreldwyd oorromplel op feeste in onder meer Nederland, Duitsland en Switserland. Slegs Suid-Afrikaanse akteurs is ingespan, insluitend Sean Cameron Michael, Donna Cormack-Thomson en Alex Joe Vaz.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….