Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 11 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# BetterBond voorspel nog ‘n rentekoersverlaging in November
# Oproepe vir groter privaat sektor betrokkenheid by en hervorming van Suid-Afrika se hawebedrywighede
# En, krieket: Engeland verslaan Pakistan met ’n beurt in die eerste toets in Multan
# BetterBond sê die aantal aansoeke vir huislenings het van die tweede tot die derde kwartaal met 4,5-persent gestyg en teen ’n meer bedeesde 1,6-persent in vergelyking met die derde kwartaal van verlede jaar. Die nasionale hoof van verkope, Bradd Bendall, sê met inflasie nou onder die middelpunt van die teikenkoers van die Suid-Afrikaanse Reserwebank van drie tot ses-persent, word nog ‘n rentekoersverlaging in November verwag:
# Die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vragversenders sê die onlangse hofbeslissing oor die Durbanse Houerkaaiterminaal Twee beklemtoon die deurslaggewende rol van die privaat sektor in die land se logistieke netwerk. ‘n Interdik is in die Hooggeregshof in Durban verkry teen die ooreenkoms van Transnet met die Filippynse maatskappy International Container Terminal Services, vir die opgradering, uitbreiding en bedryf van die terminaal. Jacob van Rensburg sê dit is ‘n geleentheid om die raamwerk vir privaat sektor beleggings en mededinging tussen hawens te herontwerp en te versterk:
# Die voormalige Amerikaanse president, Barack Obama, moedig Amerikaners aan om volgende maand vir vise-president Kamala Harris te stem en sê die land het nie nog vier jaar van Donald Trump nodig nie. Hy het sy eerste verskyning op die verkiesingsveldtog vir Harris gemaak en ‘n saamtrek in Pennsilvania toegespreek. Die uitslag van die presidentsverkiesing sal na verwagting deur ‘n handjievol state bepaal word, insluitend Pennsilvania. Obama het sy opvolger as ‘n selfsugtige politikus beskryf wat slegs vir sy ego, geld en status omgee:
# Krieket: Engeland het Pakistan met ʼn beurt en 47 lopies afgeransel in die eerste toets in Multan. Die gashere het ʼn skitterende 556 in hul eerste beurt aangeteken, maar toe neem Harry Brook en Joe Root beheer en dra onderskeidelik ʼn driedubbele en dubbele honderdtal by. Engeland se kaptein, Ollie Pope, het op ʼn uitsonderlike 823 vir sewe verklaar. Pakistan kon in sy tweede beurt slegs 220 behaal. Die tweede toets begin Dinsdag op dieselfde veld en die laaste een die 24ste in Rawalpindi.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-45-sent teen die dollar, 19-rand-11-sent teen die euro en 22-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-889-dollar-86-sent. Die prys van goud is twee-duisend-638-dollar-79-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-35-sent per vat.
# En ten slotte: Taylor Swift het byna 88-miljoen-rand geskenk om mense te help wat deur Orkaan Milton geraak word nadat die dodelike storm die kus van Florida getref het. Die Amerikaanse megaster, met ‘n geraamde fortuin van meer as 28-miljard-rand, het die geld gegee aan die organisasie sonder winsbejag, Feeding America. Swift is volgende week in Miami vir die laaste deel van haar rekordbrekende Eras-toer. Country-sangers soos Keith Urban, Luke Combs en Eric Church hou later die maand ‘n konsert in Noord-Carolina ten bate van mense wat deur die orkane Milton en Helene geraak word.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….