Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 9 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Verskeie instellings ondersoek sake wat verbind word met adjunkpresident Paul Mashatile
# ‘n Verdagte word vasgetrek in verband met die massaslating in Lusikisiki
# En, sokker: Andrés Iniesta tree uit op 40 na ‘n glansryke loopbaan vir Spanje en Barcelona
# Verskeie ondersoeke laat die druk oplaai op adjunkpresident Paul Mashatile. Die Valke ondersoek sy skoonseun, Nceba Nonkwelo, se aankoop van ’n huis van 28-miljoen-rand in Constantia, Kaapstad. Terselfdertyd ondersoek die Openbare Beskermer kontrakte wat departemente in Gauteng toegeken het aan sy seuns, Thabiso Mashatile and Tinyiko Mvelase. Volgens News24 ondersoek die Spesiale Ondersoekeenheid verkrygingskwessies gedurende Mashatile se termyn as Gauteng se LUR vir Menslike Nedersettings. Sy woordvoerder, Keith Khoza, sê die adjunkpresident is nie van enige ondersoeke in kennis gestel nie.
# ‘n Verdagte is in hegtenis geneem in verband met die massaslagting op Lusikisiki in die Oos-Kaap. Agtien mense, waaronder 15 vroue, is voorverlede naweek by twee huise in die Ngobozana-dorpie doodgeskiet. Die 45-jarige verdagte, wat Maandagaand vasgetrek is, sal na verwagting vandag in die plaaslike Landdroshof verskyn. Dit volg op vorige berigte dat drie verdagtes aangekeer is, maar later is verduidelik hulle was net persone van belang.
# Die Wes-Kaapse regering sê hy neem sterk standpunt in teen afpersing in die openbare vervoerbedryf. Afpersingsvoorvalle in die land neem toe en die provinsie loop ook onder dié misdaad deur. Afpersing is ook een van die fokuspunte in Vervoermaand. Die LUR vir Polisie-oorsig en Gemeenskapsveiligheid, Anroux Marais, sê hierdie onwettige bedrywighede verhoog die koste om sake te doen, veroorsaak finansiële probleme vir operateurs en bedreig die bestendigheid van die hele openbare vervoerstelsel:
# Zero Carbon Charge het ʼn ontwikkeling van 11,4-miljard-rand in die Oos-Kaap bekendgestel om vir elektriese voertuie laaistasies op te rig wat nie deur die kragnetwerk werk nie. Dis deel van ʼn projek om nasionaal 120 sulke laaistasies op te rig vir elektriese passasiersmotors en ligte handelsvoertuie. Zero Carbon Charge se woordvoerder, Joubert Roux, sê dis ʼn groot mylpaal in Suid-Afrika se pogings om ʼn volhoubare vervoernetwerk te bou wat vrystellings verminder:
# Sokker: Die voormalige middelveldspeler van Spanje en Barcelona, Andrés Iniesta, se glansryke internasionale loopbaan van 24 jaar het tot ʼn einde gekom. Die 40-jarige het sy buiging vir sy land in 2006 gemaak nadat hy vir ses jaar in nasionale junior spanne gespeel het, en het 13 doele in 131 verskynings aangeteken. Hy het ook 35 doele vir Barcelona behaal in 442 wedstryde vir die klub. Iniesta was baie emosioneel tydens die aankondiging maar sê dit was trane van trots omdat hy sy kinderdroom om ʼn sokkerspeler te wees kon verwesenlik.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-61-sent teen die dollar, 19-rand-30-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-75-dollar-94-sent. Die prys van goud is twee-duisend-616-dollar-97-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….