Nuus 13:00
BULLETIN 10 Augutus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA eis gelyke optrede teen rassehaat
# ‘n Voormalige senior MK-party-lid sluit by Floyd Shivambu se nuwe beweging aan
# En boks: ‘n Tweede bokser van Tokio sterf aan ‘n breinbesering
# Die DA het sy verbintenis tot nie-rassigheid herbevestig en enige rassse-verdeeldheid verwerp. Die party sê alle rassehaat moet gelyke gevolge hê. Dit volg op toenemende druk vir die verwydering van die minister van Sport, Kuns en Kultuur, Gayton McKenzie, oor rasse-uitlatings teen swart Suid-Afrikaners, en die onsteltenis oor ‘n bloedskande-opmerking oor bruin mense deur die Open Chat-poduitsending. Die DA waarsku teen dubbele standaarde, met verwysing na die uitsetting van die voormalige DA-parlementslid, Renaldo Gouws, vir rassistiese opmerkings.
# Die minister van Vroue, Jeug en Persone met Gestremdhede, Sindisiwe Chikunga, het opnuut ‘n visie gestel waarvolgens elke vrou en meisie in vryheid, waardigheid en sekerheid leef. Tydens vanjaar se Vrouedag-viering by die Nkowankowa-stadion in Limpopo het Chikunga die nalatenskap van die aktiviste geprys wat 69 jaar gelede na die Uniegebou opgeruk het. Hoewel daar vordering is, het die minister voortdurende uitdagings soos armoede, ongelykheid, geslagsgeweld en vrouemoord erken wat vroue regoor die land raak:
Die EFF-leier Julius Malema het intussen die uitbuiting van vroue in die werkplek, veral huishoudelike werkers, veroordeel. Malema het gister tydens ‘n EFF-Vrouedag-saamtrek by die Lillian Ngoyi-sentrum in Secunda, Mpumalanga, die beskerming van vroue in alle sektore beklemtoon. Hy het vroue-eienaarskap in landbou en mynbou bepleit. Hy dring aan dat mans geweld teen vroue moet staak, en beklemtoon respek, ondersteuning en ekonomiese bemagtiging as noodsaaklik vir geslagsgelykheid:
# Die voormalige adjunk-sekretaris-generaal van die MK-party, Nombuso Mkhize, het by Floyd Shivambu se Mayibuye-raadplegingsproses aangesluit as hoof van die presidensie. Haar besluit om oor te loop volg op Shivambu se vroeëre afgradering en is nog ‘n hoëprofiel-bedanking uit die MK. Mkhize was ‘n voormalige Korrektiewe Dienste beampte met Zuma-bande. Sy is voorheen in die MK-leierskap aangestel ondanks beperkte politieke ervaring. Mayibuye se woordvoerder, Sydney Baloyi, sê haar vroeë betrokkenheid beklemtoon die belangrikheid van die inisiatief namate raadpleging voortduur.
# Suid-Afrika bied volgende week die Afrika-Unie-AIP Waterbeleggingsberaad in Kaapstad aan. Die beraad het ten doel om Afrika se jaarlikse waterbeleggingsagterstand van 531-miljard-rand te vul. Staatshoofde, beleggers en internasionale vennote sal fondse insamel vir ‘n klimaatsveerkragtige infrastruktuur. Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, sê belangrike uitkomste sluit in ‘n verklaring oor waterbeleggings, beloftes van miljarde dollars en die erkenning van rolspelers wat die transformasie van die watersektor dryf:
# En om mee af te sluit: Boks: ‘n Tweede Japannese bokser is dood aan breinbeserings wat hy tydens ‘n geveg in Tokio opgedoen het. Die 28-jarige Hiromasa Urakawa is gister dood nadat hy in die agtste ronde van sy geveg teen Yoji Saito op 2 Augustus met ‘n uitklophou uitgeslaan is. Dit volg op die dood van Shigetoshi Kotari Vrydag aan beserings wat hy tydens ‘n afsonderlike geveg by Tokio se Korakuen-saal opgedoen het. Beide boksers het ‘n operasie ondergaan vir subdurale hematoom – ‘n toestand waar bloed tussen die skedel en die brein versamel. Die Japan Bokskommissie het aangekondig dat alle plaaslike en streektitelgevegte nou 10 rondes in plaas van 12 sal wees.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….