Nuus 13:00
BULLETIN 5 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa vra onderwysers om seker te maak skole lewer die vaardighede op wat die ekonomie nodig het
# ‘n Geomagnetiese storm ontwrig kommunikasie- en navigasiestelsels hierdie naweek
# En, sokker: Die wenner van die MTN8-eindstryd kry ‘n plek in die geskiedenisboeke
# President Cyril Ramaphosa het onderwysers tydens die 24ste Nasionale Onderwystoekennings geloof vir hulle deurslaggewende rol in die vorming van leerders se toekoms. Hy beklemtoon die belangrikheid daarvan om leerders soos unieke invididue te behandel, en lig uit hoe toegewyde onderwysers hulle kan inspireer en rigting gee. Ramaphosa vra meer steun en bronne vir onderwysers vir die versterking van die Wetenskap-, Tegnologie-, Ingenieurs- en Wiskunde-onderwysstelsel, bekend as STEM:
Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie prys ook onderwysers vir hulle rol in die verbetering van onderwys, met die herdenking vandag van Wêreldonderwysersdag. Die woordvoerder Nomusa Cembi beklemtoon die behoefte aan erkenning van onderwysers se prestasies terwyl aandag gegee word aan uitdagings soos begrotingsbesnoeiings. Sy vra ook waarde moet geheg word aan die stemme van onderwysers en hulle kommer moet aangehoor en op gereageer word:
En, die Verteenwoordigende Raad van Leerders in die Wes-Kaap bedank onderwysers vir die vorming van die toekoms van die provinsie en buite sy grense. Die voorsitter Justin Naude prys onderwysers vir hulle toewyding en sê hulle inspireer en rus leerders toe met lewensbelangrike vaardighede. Hy wys op onderwysers se pogings by verandering aan te pas, en die strewe na inklusiwiteit. Hy noem hulle sleutelfigure op leerders se pad na sukses:
# Die Suid-Afrikaanse Nasionale Ruimteagentskap waarsku oor ‘n moontlike geomagnetiese storm wat hierdie naweek verwag word, en kommunikasie- en navigasiestelsels kan ontwrig. Die storm word veroorsaak deur ʼn sonvlam en mag moontlik lei tot ʼn skaars waarneming van die suiderlig in die Suid-Afrikaanse hemelruim. Die vlam is op 3 Oktober waargeneem en is die grootste sigbare gebeurtenis van die son na die aarde in sewe jaar. SANSA waarsku oor geomagnetiese toestande wat wissel van gering tot baie erg met ʼn moontlike impak op kragnetwerke en noodsaaklike stelsels regoor die wêreld.
# En laastens, sokker: Die eindstryd van die MTN8 tussen Orlando Pirates en Stellenbosch FC vanaand in Durban gee die spelers aan beide kante die kans om hulle name in die rekordboeke te kry – en ‘n koel tien-miljoen-rand vir hulle klub in te oes. Afgesien van die prysgeld, is daar ook aansien by die Moses Mabhida-stadion op die spel. Vir Pirates is dit die kans om ‘n ongeëwenaarde derde agtereenvolgende MTN8-titel in te palm, en vir Stellenbosch, die kans op ‘n eerste trofee in die top-agtkompetisie. Die wedstryd skop om ses-uur af.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….