Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Oktober 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die families van die Lusikisiki-slagoffers verwerp ‘n massabegrafnis en maak begrafnisdatums bekend
# Die Parlement kritiseer Mkhwebane se verregaande aanval op amptenare
# En, krieket: Tabraiz Shamsi onttrek aan sy nasionale kontrak sodat hy in internasionale ligas kan speel
# Die families van die 18 slagoffers van die massaskietery in Ngobozana in Lusikisiki in die Oos-Kaap, het die regering se aanbod vir ’n massabegrafnis van die hand gewys. Wyksraadslid Thandazile Mgudu sê die families het op afsonderlike begrafnisse besluit. Die Matu-familiebegrafnis is op die 12de asook die begrafnis van die ander families by Dimfi en Malangeni. Die begrafnis vir die Ndleleni-familie is op die 13de. ‘n Massatroosdiens word vir Sondag beplan. Een persoon word ondervra in verband met die slagting.
# Die Parlement sê hy is verstom oor die ongegronde uitsprake van die voormalige openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane. Die Appèlhof het haar appèl van die hand gewys teen ‘n uitspraak deur die Wes-Kaapse Hooggeregshof in verband met haar afdankings-ondersoek. Mkhwebane het op sosiale media gesê mense van Indiese afkoms was voortdurend betrokke by haar voortgesette stryd teen haar ontslag. Sy noem spesifiek die ondersoek se getuienisleier, Nazreen Bawa, en die Parlement se hoofregsraadgewer, Zuraya Adhikarie. Woordvoerder Moloto Mothapo sê Mkhwebane se aanvalle is verregaande:
# Die DA doen regstappe teen die minister van Indiensneming en Arbeid, Nomakhosazna Meth, se plan om 20-duisend ras-inspekteurs aan te stel ingevolge die Wet op Diensbillikheid. Die party glo dit sal uitgediende apartheid-era klassifikasie versterk en ekonomiese groei bedreig. Die DA mik daarna om die wet en sy rassekwotas ongrondwetlik verklaar te kry en is eerder ten gunste van ‘n nierassige, meriete-gebaseerde ekonomiese stelsel. Woordvoerder Michael Bagraim vra duidelikheid hoe die regering die plan wil befonds te midde van begrotings-beperkings.
# Die Nasionale Verbruikerskommissie versoek verbruikers om nie langer die Deli Hummus-reeks van Shoprite Checkers te gebruik nie. Waarnemende kommissaris, Hardin Ratshisusu, het na ʼn tussentydse ondersoek kommer uitgespreek oor die hantering van die produk tydens vervaardiging. Die NVK wag op ʼn finale verslag terwyl dit die herroeping monitor. Verbruikers word versoek om die produk terug te neem vir ʼn volledige terugbetaling, selfs sonder ʼn bewys van aankoop. Hy sê verspreiding is gestaak vir verdere ondersoek.
# Krieket: Die Protea-draaibouler Tabraiz Shamsi het besluit om aan sy nasionale kontrak te onttrek. Die 34-jarige en Krieket Suid-Afrika sê in ʼn gesamentlike verklaring die besluit is onmiddellik van krag. SuperSport berig dit bied Shamsi meer buigsaamheid om in verskeie internasionale ligas te speel, maar hy kan terselfdertyd nog vir Suid-Afrika speel. KSA sê hulle respekteer sy besluit en glo hy sal toegewyd bly aan Suid-Afrikaanse krieket. Shamsi het reeds 51 eendagwedstryde en 70 T20s vir die Proteas gespeel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-38-sent teen die dollar, 19-rand-19-sent teen die euro en 22-rand-81-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-389-dollar-21-sent. Die prys van goud is twee-duisend-642-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….