Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 September 1 vm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Aansienlike petrol- en dieselprysverlagings word vir Woensdag aangekondig
# ActionSA dreig om sy steun te onttrek as die ANC sy eie burgemeesters-kandidaat in Tshwane voorstel
# En, tennis: Naomi Osaka kom teen Coco Gauff te staan in die Chinese Ope
# Brandstofpryse gaan Woensdag aansienlik daal. Die prys van 95-oktaan loodvrye petrol gaan met 1-rand-14 sent per liter daal, en 93 oktaan met 1-rand-6 sent. Dieselpryse sal met sowat 1-rand-14 sent per liter daal en lampoliepryse met 1-rand-11 sent per liter. Die prys van vloeibare petroleumgas sal egter met 23-sent per kilogram styg. Die verlagings beteken brandstofkoste word dieselfde as voor Rusland se inval in Oekraïne. Dit is te dankie aan dalende Brent-ruoliepryse en ‘n sterker rand.
# ActionSA dreig om sy ondersteuning te onttrek as die ANC sy eie burgemeesters-kandidaat in Tshwane benoem. Volgens berigte wil die ANC Kgosi Maepa as kandidaat voorstel om Cilliers Brink van die DA te vervang, wat Donderdag met ‘n mosie van wantroue verwyder is. ActionSA het gesê hy gaan onderburgemeester Nasiphi Moya benoem. Die party se voorsitter, Michael Beaumont, het aan News24 gesê indien die ANC teruggaan op sy woord, gaan hy sonder ʼn meerderheid regeer.
# Die DA in Gauteng is ontsteld oor die vertraging met die instelling van aanbevelings in die verdoemende verslag oor die Rahima Moosa Moeder-en-Kind-hospitaal in Johannesburg. Net die helfte van die 44 aanbevelings is van krag 18 maande nadat die Gesondheidsombud se verslag vrygestel is. Jack Bloom van die DA sê ‘n kritieke aanbeveling wat nog nie ingestel is nie, is die aanstelling van ‘n onafhanklike forensiese en ouditmaatskappy om die bevoegdheid van die bestuur te bepaal en korporatiewe bestuur te hersien:
# Die Al Jama-ah-party doen ‘n beroep op die regering om ekonomiese en handelsanksies teen Israel in te stel. Dit volg nadat die leier van die militante groep Hizbollah met sy basis in Libanon, Hassan Nasrallah, Vrydag dood is in ‘n Israelse lugaanval op sy ondergrondse hoofkwartier in Beiroet. Ganief Hendricks van Al Jama-ah sê hulle veroordeel Israel se optrede en steun ten volle die bevryding van Palestina:
# Tennis: Die viermalige Grand Slam-kampioen, Naomi Osaka, gaan die Amerikaner Coco Gauff pak in die vierde ronde van die Chinese Ope in Beijing. Die Japanner het die 60ste op die wêreldranglys, Katie Volynets van Amerika, 6-3, 6-2 geklop. Gauff het haar plek onder die laaste 16 bespreek met ‘n oorwinning van 7-5, 6-2 oor Katie Boulter van Brittanje. Môre se stryd tussen Osaka en Gauff sal hulle eerste ontmoeting in meer as twee jaar wees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-14-sent teen die dollar, 19-rand-20-sent teen die euro en 22-rand-98-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-864-dollar-66-sent. Die prys van goud is twee-duisend-649-dollar-68-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….