Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC, die EFF en ActionSA verenig om burgemeester Cilliers Brink in Tshwane te verwyder
# Rampbestuurspanne word in KwaZulu-Natal ontplooi te midde van sneeuwaarskuwings
# En, tennis: Die Wedloop na Turyn word al spannender nadat Carlos Alcaraz ook kwalifiseer
# Die ANC in Tshwane het tostemming ontvang om die DA-geleide koalisie te verwyder. Die burgemeester, Cilliers Brink, het vandag te kampe met ‘n mosie van wantroue, met die ANC, die EFF en ActionSA wat sy verwydering ondersteun en 55-persent van raadsetels beklee. DA- en Vryheidsfront Plus-ondersteuners het voor Tshwane-huis bymekaargekom om die burgemeester te ondersteun. Brink het met hulle gepraat en sy teleurstelling uitgespreek oor ActionSA se uittrede uit die koalisie, maar is oop vir samesprekings met die ANC indien die mosie teruggetrek word:
# Rampbestuurspanne in KwaZulu-Natal is ontplooi na aanleiding van voorspellings van moontlike sneeu volgende week. Die LUR vir Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Thulasizwe Buthelezi, waarsku inwoners oor verwagte uiters koue temperature Maandag en Dinsdag, veral in gebiede rondom die Drakensberge. Senzelwe Mzila van die departement sê die provinsiale rampbestuursentrum werk saam met plaaslike munisipaliteite en ander belanghebbendes om voor te berei vir alle moontlike noodgevalle:
# New York se burgemeester, Eric Adams, gaan van federale misdade aangekla word. Volgens New York Times volg dit op ‘n ondersoek van die Amerikaanse prokureur se kantoor in Manhattan, wat volgens berigte sy verbintenis met Turkse amptenare en sakelui insluit, asook veldtog-skenkings wat hy ontvang het. Die 64-jarige Adams sal die eerste burgemeester in die stad se geskiedenis wees wat tydens sy ampstermyn van misdaad aangekla word. Hy sê hy gaan die aanklagte betwis:
# Tennis: Die Wedloop na Turyn raak al spannender met die Spanjaard Carlos Alcaraz wat die derde speler geword het om sy plek te bespreek in die ATP-eindtoernooi in Italië in November. Hy sluit aan by die twee voorste spelers, Jannik Sinner van Italië en die Duitser Alexander Zverev, in die toernooi waaraan die seisoen se agt beste enkelspelspelers en dubbelspelpare deelneem. Die 21-jarige Alcaraz het sy Grand Slam-titels vanjaar verdubbel tot vier, en ook silwer gewen op die Olimpiese Spele in Parys. Dit sal sy derde agtereenvolgende deelname wees.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-21-sent teen die dollar, 19-rand-18-sent teen die euro en 22-rand-97-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-628-dollar-69-sent. Die prys van goud is twee-duisend-669-dollar-32-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-71-sent per vat.
# En ten slotte: Finland het aangekondig twee reusepandas gaan vroeër na China terugkeer oor die onkoste daaraan verbonde. Lumi en Pyry was veronderstel om tot 2032 in die Ähtäri-dieretuin te bly, maar die park het besluit om hulle terug te stuur weens inflasie en skuld wat met die Covid 19-pandemie verband hou. Volgens berigte kos dit 29-miljoen-rand per jaar om die diere te versorg en die Finse regering was nie bereid om die onkoste te deel nie. Die reusepandas gaan binnekort ‘n maand lank in kwarantyn wees voor hulle na China sal reis.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….