Nuus 13:00
BULLETIN 24 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# President Cyril Ramaphosa stel ambisieuse beleggingsdoelwitte en mik vir 2-duisend-miljard-rand binne vyf jaar
# Die motorbedryf se personeelvereniging, MISA vra samewerking om erfenis te bewaar en die planeet te beskerm
# En rugby, die Curriebeker-wenners van KwaZulu-Natal vertrek vir die begin van die Verenigde Rugbykampioenskap
# President Cyril Ramaphosa het ‘n nuwe beleggingsdoelwit van twee-duisend-miljard-rand teen 2028 gestel nadat Suid-Afrika se vorige mikpunt van 1,2-duisend-miljard-rand bereik is. Die president, wat Suid-Afrika se afvaardiging by die 79ste Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies gelei het, het ook die New York Aandelebeurs se sluitingsklok gelui in die geselskap van die beurs se president Lynn Martin en ander amptenare. In sy toespraak by die SA-US-sakeforum het Ramaphosa Amerikaanse beleggers genooi om geleenthede in sektore soos hernubare energie, vervaardiging en infrastruktuur te ondersoek:
# Die Gespesialiseerde Handelsmisdaadhof in Pretoria het die bedrog- en korrupsiesaak van 54-miljoen-rand waarby die gewese waarnemende polisiekommissaris, Khomotso Phahlane, en vyf medebeskuldigdes betrek word, na die Hooggeregshof in Pretoria oorgedra. Hulle verskyn op 21 Oktober in ʼn voorverhoor-konferensie. Die aanklagte teen hulle hou verband met die onregmatige verkryging van programmatuur wat in 2015 tydens die #FeesMustFall-betogings gebruik is. Die Ondersoekdirektoraat se woordvoerder, Henry Mamothame sê al die beskuldigdes is tans uit op borgtog:
# Die motorbedryf se personeelvereniging, MISA, doen ʼn beroep dat almal op hierdie Erfenisdag kulturele verskeidenheid en die beskerming van die omgewing vier. Deur sy forums vir vroue en jong mense ondersteun die vereniging gemeenskapsprojekte, omgewingsinisiatiewe en pogings om die bedreigde renoster te beskerm. MISA se uitvoerende hoof, Martlé Keyter, moedig ander organisasies aan om saam te werk aan ʼn volhoubare en kultureel dinamiese nalatenskap vir toekomstige geslagte.
# In plaas van ʼn advertensie oor die Amerikaanse staat Georgia, het Donald Trump se veldtog ʼn foto van die land Georgië gebruik. Iemand in die Trump-span het dié land in Oos-Europa met die staat met dieselfde naam verwar. Die Shutterstock-foto wat in die advertensie gebruik is, wys die Kaukasus-bergreeks in die noordweste van Georgië. Die advertensie was daarop gemik om inwoners van Georgia aan te moedig om in die November-verkiesing te stem. Die land Georgië is ʼn klein, onafhanklike republiek langs die Swartsee tussen Rusland en Turkye.
# Rugby: Die stof het na sy triomfantelike Curriebeker-veldtog nog nie behoorlik gaan lê nie, en die Haaie moes reeds die fokus verskuif van hulle suksesvolle titelveldtog na die Verenigde Rugbykampioenskap wat hierdie naweek vir Suid-Afrikaanse spanne afskop. Die Durbanse span het gister vertrek om Saterdag met hulle veldtog teen Connacht in Ierland te begin voor hulle na Wallis reis om teen die Dragons te speel en daarna Italië toe vir ʼn wedstryd teen Benetton. Afrigter John Plumtree het ʼn groep van 27 aangekondig onder aanvoering van losvoorspeler, Vincent Tshituka.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….