Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 20 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# RISE Mzansi vra vir ondersteuning vir Eskom te midde van inkomsteverhaling
# Die EFF versoek Ramaphosa om 17 wetsontwerpe op sy lessenaar te onderteken
# En, krieket: SA gaan steeds teen Afghanistan speel
# RISE Mzansi vra vir voortgesette ondersteuning vir Eskom om energiestabiliteit in stand te hou en infrastruktuur vir transmissie uit te brei. Makashule Gana van die party het tydens ‘n debat oor die inkomsteverhaling van agt-miljard-rand deur die nutsmaatskappy gewaarsku dat sonder behoorlike befondsing Eskom voor verdere uitdagings te staan mag kom. Gana gee erkenning aan onlangse verbetering aan die leierskap van Eskom wat beurtkrag vir meer as 150 dae beëindig het:
# Die EFF doen ‘n beroep op president Cyril Ramaphosa om 17 wetsontwerpe wat wag op sy handtekening op sy lessenaar te onderteken, insluitend die Wysigingswetsontwerp op Gemeenskaplike Eiendomsverenigings. Van hierdie 17 wetsontwerpe is sewe in Mei goedgekeur toe die sesde Parlement gehaas het om sy sake af te handel. Die EFF Parlementslid, Veronica Mente, het voorgestel die Konstitusionele Hof se betrokkenheid word benodig om die proses te bespoedig. Sy sê die Parlement moet verseker hierdie wetsontwerpe word wet, om Suid-Afrikaners te bevoordeel.
# Die GOOD-party sê hy stem saam met die DA dat die voorgestelde verhoging van 36-persent in die nasionale elektrisiteitstarief, bykomend tot ʼn verhalingstarief van vier-persent, onbekostigbaar is en teengestaan moet word. Die party voeg egter by dit klink na opportunisme en skynheiligheid van die DA wat die Hooggeregshof genader het om hoër tariewe in Kaapstad in te stel. GOOD se hoofsekretaris Brett Herron, sê Kaapse inwoners moenie ʼn sent te veel vir elektrisiteit betaal nie:
# Krieket: Suid-Afrika se beheerliggaam het ‘n verklaring uitgereik waarin hy beklemtoon hy sal voortgaan om wedstryde teen Afghanistan te reël. Krieket Suid-Afrika benadruk dit is onregverdig om Afghaanse krieketspelers, mans en vroue, aan sekondêre vervolging te onderwerp vir die optrede van die Taliban. KSA word gekritiseer vir sy bande met ‘n land waar vroue ernstig onderdruk word, maar wys op die krag van meeding met Afghanistanse spanne. Die Proteas se kaptein, Temba Bavuma, ondersteun die siening en sê die regte van Afghaanse vrouespelers moet beskerm en gerespekteer word.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-56-sent teen die dollar, 19-rand-60-sent teen die euro en 23-rand-35-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-428-dollar-96-sent. Die prys van goud is twee-duisend-609-dollar-76-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-72-sent per vat.
# Ten slotte: Die Stad Tshwane se nooddienste sê hulle is op gereedheidsgrondslag terwyl koue weer oral in die metro van vandag tot Sondag verwag word. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku ‘n intense afsny-laagdrukstelsel sal die naweek baie koue, nat en winderige toestande in die suidelike en oostelike dele van die land veroorsaak. Die woordvoerder van die Tshwane-nooddienste, Lindsay Mnguni, sê daar is ‘n moontlikheid van sneeu en verspreide donderstorms:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….