Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê Suid-Afrika moet sy weermag versterk
# Die DA vra Statistikus-generaal Risenga Maluleke om opsy te staan
# En, rugby: ‘n Groot dag wag Saterdag op James Slipper van Australië
# President Cyril Ramaphosa sê Suid-Afrika moet sy weermag versterk en daarin belê om meer wapens vir die Departement van Verdediging te bekom. Ramaphosa het onlangs aangekondig Denel sal voortaan onder die ministerie van Verdediging en Militêre Veterane val. Tydens ‘n besoek aan die wapenvervaardiger het hy beloof die regering sal voortgaan om Denel te ondersteun en te versterk sodat hy wapens kan vervaardig:
# Die DA sê hy is bekommerd oor die Statistikus-generaal, Risenga Maluleke, se erkenning dat Statistieke Suid-Afrika in groot moeilikheid is. Hy het aan lede van die Parlement se staande komitee oor Bewilligings gesê bedankings, die verbod op aanstellings en begrotingsbesnoeiings lê die organisasie lam. Darren Bergman van die DA sê Maluleke moet opsy staan aangesien hy sedert 2017, en dus tydens die aanvegbare 2022-sensus, die amp beklee het:
# Die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering het ‘n resolusie met 124 stemme teenoor 14 teen Israel goedgekeur om sy onwettige teenwoordigheid in die Wesoewer, Gazastrook en die ooste van Jerusalem te beëindig. Die resolusie, wat deur Palestina ingedien is, eis dat Israel binne 12 maande sy teenwoordigheid in die Besette Palestynse Gebiede beëindig. Dit vra ook lidstate om nie wapens of militêre toerusting aan Israel te verkoop nie, asook ‘n boikot van alle Israelse produkte. Drie-en-veertig lande het buite stemming gebly terwyl Israel, Amerika en 12 ander lande was daarteen.
# Rugby: James Slipper kan George Gregan verbysteek en die Australiese speler word met die meeste toetse agter sy naam, ná hy as die plaasvervanger-loskopstut vir sy 140ste toets Saterdag aangewys is. Die Wallabies pak die All Blacks in ‘n Rugby-Kampioenskapwedstryd in Sydney, wat ook dien as die eerste van twee Bledisloe-bekertoetse. Australië het in sy vorige wedstryd ‘n rekordnederlaag van 67-27 teen Argentinië gely. Hulle het die Bledisloe-beker laas in 2002 verower.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-44-sent teen die dollar, 19-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-17-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-98-dollar-78-sent. Die prys van goud is twee-duisend-587-dollar-38-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 74-dollar-56-sent per vat.
# Ten slotte: ‘n Elektriese motorfiets wat in Afrika gebou is en slegs deur sonkrag aangedryf word, gaan volgende maand die lang pad van Nairobi in Kenia na Stellenbosch in die Wes-Kaap aanpak. Navorsers van die Universiteit van Stellenbosch het kragte saamgesnoer met Roam, ‘n tegnologiemaatskappy in Nairobi wat elektriese voertuie vervaardig om die Roam Air te toets. Die motorfiets gaan sowat ses-duisend-kilometer aflê met slegs sonkrag as energiebron. ‘n Doktorsgraad-kandidaat en mede-navorser van die projek, Stephan Lacock, gaan saam met Masa Kituyi op die fiets ry.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….