Nuus 13:00
BULLETIN 8 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA dring aan op ‘n dringende ondersoek na 813-miljoen-rand wat vir Weermaglede in die DRK bedoel was
# AfriForum waarsku 46-persent van Suid-Afrika se drinkwater is onveilig vir menslike gebruik
# En tennis: Djokovic bevestig hy gaan aan die Amerikaanse Ope deelneem
# Die DA vra ‘n dringende ondersoek om vas te stel wat van die verlore 813-miljoen-rand geword het wat vir die soldate van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag in die Demokratiese Republiek die Kongo bedoel was. Nicholas Gotsell van die DA sê die voorsitter van die Parlement se gesamentlike staande komitee oor Verdediging, Malusi Gigaba, het sy belofte verbreek om antwoorde te kry by die minister van Verdediging en Militêre Veterane, Angie Motshekga, en verhoed nou die komitee om te vergader:
# Activists and Citizens Forum het die Valke versoek om die geskorste uitvoerende hoof van die Onafhanklike Ontwikkelingstust, Tebogo Malaka, en woordvoerder Phasha Makgolane in hegtenis te neem. Daily Maverick het beeldmateriaal gepubliseer waar hulle die ondersoekende joernalis Pieter-Louis Myburgh 60-duisend-rand kontant aanbied om ‘n korrupsie-ondersoek te staak. Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n strafregtelike klagte teen hulle ingedien. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê daar is voldoende bewys om hulle dadelik aan te keer:
# AfriForum sê 46-persent van die drinkwater in Suid-Afrika is onveilig vir menslike gebruik en die meeste watersuiwerings-aanlegte is op die randjie van ineenstorting. Die organisasie het sy jaarlikse blou-en-groen-druppelprojek van stapel gestuur om munisipale drink- en afvalwater in byna 160 dorpe te toets. Die eerste monsters is by die Hammanskraal-polisiestasie en die Rooiwal-suiweringsaanleg in Gauteng geneem. Marais de Vaal van AfriForum waarsku onveilige water en riool verhoog die gevaar van cholera:
# Die voorgestelde Kinderwysigingswetsontwerp is goedgekeur vir openbare kommentaar. Die wetsontwerp poog om die Kinderwet van 2005 te versterk deur aandag te skenk aan gapings in kinderversorging- en beskermingsdienste. Dit fokus op die verbetering van voorkoming, vroeë ingryping, statutêre sorg, herintegrasie en nasorgstelsels. Dit het ook ten doel om maatreëls te versterk wat kinders teen geweld, mishandeling, verwaarlosing en uitbuiting op alle gebiede sal beskerm.
# Tennis: Die wêreld-nommer-ses, Novak Djokovic, het besluit om aan die Amerikaanse Ope deel te neem wat die 24ste in New York begin. Dit volg nadat hy aan die Kanadese en die Cincinnati-ope onttrek het. Djokovic het verlede jaar na die Amerikaanse Ope deelgeneem aan die Shanghai-meesterstoernooi en die Six Kings Slam in Saoedi-Arabië. Hy kan vanjaar dalk weer in Shanghai speel, hoewel verskeie tekens daarop dui dat hy dit gaan misloop. Hy word nie op die toernooi se webblad aangedui as onder sewe spelers om dop te hou nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-73-sent teen die dollar, 20-rand-63-sent teen die euro en 23-rand-83-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 116-duisend-559-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-399-dollar-91-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-34-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….