Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 12 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Gesondheid gee die ombud opdrag om Helen Joseph te ondersoek ná klagte
# Ramaphosa gaan die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering in New York toespreek
# En, rugby: Phillip Snyman is amptelik aangestel as die Blitsbokke se hoofafrigter
# Die minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, het die Gesondheids-ombud opdrag gegee om ondersoek te doen na die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg nadat die voormalige verslaggewer, Tom London, ‘n video geplaas het oor die swak behandeling. Hy het berig oor oneerbiedige personeel, onverskillige dokters en pasiënte wat naby ‘n oorlede pasiënt geplaas is. Motsoaledi het die behandeling as onaanvaarbaar bestempel. Intussen het die Gautengse LUR vir Gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, onthul daar was verlede jaar 41 klagtes oor die hospitaal, hoofsaaklik oor lang wagtye en die personeel se houding.
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê hy sal nie huiwer om teen beamptes op te tree wat by afpersingsverwante misdaad betrek word nie. Agt mense, insluitend sewe polisiebeamptes wat van diens af was, is vroeër die week in Durban aangekeer omdat hulle na bewering probeer het om ‘n sakepersoon vir 100-duisend-rand af te pers. Masemola het aan die media gesê die polisie is daartoe verbind om verrotte elemente in die polisiemag uit te wis:
# Die minister van Kommunikasie en Digitale Tegnologie, Solly Malatsi, het gemeenskapsradiostasies beloof om ‘n nuwe regulatoriese raamwerk met die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika te bespreek. Dit volg ná klagtes van stasies wat sê Okosa se streng regulasies het veroorsaak dat talle stasies hul uitsaailisensies verloor het, of nie vir nuwe lisensies kon registreer nie. Verskeie stasies het met Malatsi vergader waar hulle vir hom gesê het die huidige raamwerk en Okosa se afdwinging daarvan kom neer op ‘n aanval op vryheid van spraak, en is dus ongrondwetlik.
# President Cyril Ramaphosa sal vanaf die 24ste tot die 30ste van die maand die Suid-Afrikaanse afvaardiging lei na die 79ste Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in New York. Die voormalige eerste minister van Kameroen, Philemon Yang, is die voorsitter van die sitting wat sal fokus op eenheid in verskeidenheid. Die Presidensie se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Ramaphosa sal die beraad toespreek en fokus op multilateralisme, ekonomiese diplomasie en beleggings om Suid-Afrika se werkloosheid, armoede en ongelykheid aan te pak:
# Rugby: SA Rugby het die gewese kaptein van die Springbok Sewes, Phillip Snyman, amptelik aangestel as hoofafrigter van die Blitsbokke tot die Olimpiese Spele in Los Angeles in 2028. Hy het die afgelope ses maande waargeneem. Die Blitsbokke het onder sy leiding die bronsmedalje gewen op die Spele in Parys. SA Rugby se uitvoerende hoof, Rian Oberholzer, sê die manier waarop Snyman die Blitsbokke weer op die wenpad gekry het, spreek boekdele van sy vermoëns as breier.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-97-sent teen die dollar, 19-rand-80-sent teen die euro en 23-rand-45-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-197-dollar-1-sent. Die prys van goud is twee-duisend-518-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 71-dollar-29-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….