Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 8 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die ANC-regering se gebrek aan prioritisering het die basiese onderwysstelsel in ‘n krisis gedompel
# Die Suidelike Halfrond beleef ‘n opwindende naweek met twee spannende Rugbykampioenskap-wedstryde
# En, president Cyri Ramaphosa sê James Matthews se stem weerklink in Suid-Afrikaners se bewussyn
# Die EFF neem met verontwaardiging kennis van die dreigende bedreiging vir duisende onderwysposte dwarsoor Suid-Afrika, met provinsiale departemente van onderwys wat ernstige begrotingsbesnoeiings, stygende leerdergetalle en stygende salarisuitgawes moet hanteer. Woordvoerder Leigh-Ann Mathys sê die wanbestuur van openbare hulpbronne en gebrek aan prioritisering van onderwys het die basiese onderwysstelsel in ‘n krisis gedompel. Sy sê die party verwerp die redenasie dat begrotingsbesnoeiings onvermydelik is en veroordeel die regering se benadering om noodsaaklike dienste soos onderwys op te offer maar terselfdertyd die opgeblase salarisse beskerm van senior amptenare en ‘n oorgroot kabinet met reusagtige voordele.
# Die onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, versoek intussen die regering om die kwessie aan te spreek van onderwysers wat leerders soms met geweld uit ʼn wiskundeklas verdryf na ʼn klas vir wiskundige geletterdheid, sonder om die ouers te raadpleeg. Volgens Makaneta is dit ʼn blatante miskenning van hulle reg tot gehalte onderwys en ʼn skerp herinnering aan die sistemiese rassisme wat die samelewing steeds teister:
# De Departement van Gesondheid in Gauteng ondersoek ʼn video wat op sosiale media geplaas is deur ʼn pasiënt genaamd Tom London, wat verskeie bewerings oor die Helen Joseph-hospitaal in Johannesburg maak. Die woordvoerder van die departement, Motalatale Modiba, sê hoewel die saak ondersoek word het die departement nege maande gelede ʼn provinsiale veldtog begin met die slagspreuk, “Ek Dien met ‘n Glimlag”, wat daarop gemik is om die houding van personeel en pasiënte se ervaring te verbeter:
# Rugby: ʼn Week nadat die Wallabies ʼn agterstand van 10-0 uitgewis het om die eerste toets met 20-19 te wen, het die Pumas wraak geneem in Santa Fe deur die meeste punte aan te teken wat Australië nog ooit in ʼn toets afgestaan het. Die oorwinning van 67-27 plaas die Pumas nou tweede op die puntetabel, agt punte agter voorlopers Suid-Afrika met nog twee wedstryde oor. Die Wallabies is laaste. Argentinië moet die Springbokke nou in hulle laaste twee wedstryde klop om die Rugbykampioenskap die eerste keer te wen. Intussen het die Springbokkaptein, Siya Kolisi, gesê hulle wou bitter graag Saterdag se toets in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks wen. Kolisi het met ʼn gebreekte neus gespeel en die Bokke se eerste drie in die tweede helfte gedruk. Die eindtelling van 18-12 beteken die Bokke het die Freedom Cup vir die eerste keer sedert 2009 gewen.
# En ten slotte: President Cyril Ramaphosa sê die kultuuraktivis, James Matthews, se stem sal in Suid-Afrikaners se bewussyn weerklink. Matthews is Saterdag op die ouderdom van 95 oorlede. Presidensiële woordvoerder, Vincent Magwenya, sê Matthews was ʼn Gewaardeerde Lid van die Nasionale Orde van Ikamanga. Hy het die eerbewys in 2004 ontvang vir sy uitstekende prestasies in die letterkunde, sy bydrae tot joernalistiek en sy inspirerende verbintenis tot die stryd vir ʼn nie-rassige Suid-Afrika:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….