Nuus 13:00
BULLETIN 7 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Trump se nuwe tariewe teen tientalle lande tree in werking
# Die Patriotic Alliance lê ‘n strafregtelike klagte teen die ‘Open Chat Podcast’ oor rassistiese opmerkings
# En rugby: Joe Schmidt wys die Wallabies se groep vir die twee toetse teen die Springbokke aan
# Die Amerikaanse president, Donald Trump, se ingrypende nuwe tariewe op meer as 90 lande het in werking getree. Hy het op sy Truth Social-platform gesê miljarde dollar vloei nou na Amerika. Trump het vroeër ‘n tarief van 50-persent op Indië gehef wat op 27 Augustus in werking sal tree tensy die land ophou om Russiese olie te koop. Hy dreig ook met ‘n 100-persent-tarief op buitelandse rekenaarskyfies. Apple het ‘n nuwe Amerikaanse belegging van 1,7-duisend-miljard-rand aangekondig na druk deur die Withuis om meer produksie na Amerika te skuif.
Die DA sê intussen die Wes-Kaap se toerisme-, handels- en beleggings-bevorderingsagentskap, Wesgro, se rol in handelsbevordering is van kardinale belang terwyl Suid-Afrika nuwe wêreldwye handelsdruk ervaar, insluitend die tarief van 30-persent wat Amerika ingestel het. Wesgro het die afgelope jaar 15-miljard-rand in nuwe beleggings bekom en vyf-miljard-rand se uitvoere bemiddel. Noko Masipa van die DA sê die agentskap het ook 75 handelsendings gelei en met 48 lande gesprekke gevoer om toegang tot markte te verkry:
# Die MK-party vra die regering om te onttrek aan die Statebond se Parlementêre Vereniging en is van mening dit handhaaf koloniale nalatenskappe en ondersteun Britse globale invloed. Suid-Afrika het in 1994 weer by die Statebond aangesluit nadat hy in 1961 weens apartheidskritiek onttrek het. ‘n Lid van die KwaZulu-Natalse wetgewer, Ishana Barciela, het aan die SABC gesê die MK-party is belyn met BRICS, nie die Statebond nie. Sy sê dis tyd om mense na grondherstel te lei en vir die herstel van hulpbronne wat tydens koloniale bewind geplunder is.
# Die Patriotic Alliance het ‘n strafregtelike klagte ingedien teen die aanbieders van Open Chat Podcast, Mthokozisi Methula en Sinothando Kama. Hulle het beledigende aanmerkings oor die bruin gemeenskap gemaak wat in ‘n episode op sosiale media verskyn het en wyd versprei is. Die aanbieders het intussen om verskoning gevra vir die opmerkings en die bespreking uit die episode gehaal. Die leier van die PA, Gayton McKenzie, sê hulle gaan die twee ook na die Gelykheidshof neem vir onwettige diskriminasie:
# Rugby: Die Wallabies se afrigter, Joe Schmidt, het ‘n groep van 35 spelers aangekondig vir die twee Rugbykampioenskaps-toetse teen die Springbokke in Suid-Afrika. Tane Edmed en Lukhan Salakaia-Loto is twee van die nuwelinge in die groep. Nic White het sy uittrede tydelik uitgestel om die gereelde skrumskakel Jake Gordon te vervang, wat beseer is. Schmidt erken dit gaan moeilik wees om die Bokke op twee agtereenvolgende naweke tuis te pak. Die eerste wedstryd is die 16de in Johannesburg en die tweede ‘n week later in Kaapstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-71-sent teen die dollar, 20-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-968-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-379-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 66-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….