Nuus 13:00
BULLETIN 11 Julie 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die media word verbied om die hofsaak van die sakeman Vusimuzi ‘Cat’ Matlala regstreeks uit te saai
# Adjunkminister Nel beskryf die uitspraak in Caster Semenya se saak as ‘n reuse-oorwinning vir geregtigheid
# En tennis: Sinner sê hy’s 100-persent fiks vir vanmiddag se Wimbledon-halfeindstryd teen Djokovic
# Die media is verbied om die hofsaak van die omstrede tenderpreneur Vusimuzi “Cat” Matlala in Alexandra, Gauteng regstreeks uit te saai. Hy staan tereg op aanklag van poging tot moord en sameswering om moord te pleeg oor ‘n beweerde komplot om sy gewese vriendin, die aktrise en entrepreneur Tebogo Thobejane, te vermoor. Matlala word ook verbind met die huidige en die gewese minister van Polisie, Senzo Mchunu en Bheki Cele. Hy bly in aanhouding terwyl sy vrou en twee ander medebeskuldigdes uit is op borgtog. Die saak hervat op 26 Augustus.
# Die DA sê die finansiële hoof van die polisie se Misdaadintelligensie-afdeling, Philani Lushaba wat in aanhouding is, was ‘n plaasvervanger-trustee van die Staatsdienspensioenfonds vir twee vorige boekjare. In hierdie rol het hy na bewering minstens 652-duisend-rand se trusteefooie ontvang. Andrew Bateman van die DA sê dié nuus is uiters kommerwekkend gegewe Lushaba se inhegtenisneming op twee afsonderlike klagte van korrupsie weens die beweerde misbruik van sy posisie:
# Die adjunkminister van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling, Andries Nel, beskryf die uitspraak ten gunste van die Suid-Afrikaanse Olimpiese kampioen, Caster Semenya, as ‘n reuse-oorwinning wêreldwyd vir geregtigheid, gelykheid en die regte van atlete met verskille in geslagsontwikkeling. Die Europese Hof vir Menseregte het bevind die Switserse Federale Tribunaal het nie Semenya se appèlaansoek teen diskriminerende atletiekregulasies behoorlik hanteer nie. Die departement se woordvoerder, Terrence Manase, sê die saak het wêreldwye gesprekke oor menseregte ontketen:
# Tennis: Die wêreld-nommer-een, Jannik Sinner, sê hy is 100-persent fiks vir vanmiddag se halfeindstryd teen die sewemalige-kampioen, Novak Djokovic van Serwië, op Wimbledon. Die 23-jarige Italianer het sy elmboog Maandag seergemaak tydens die vierderonde-wedstryd teen Grigor Dimitrov, maar oorleef toe die Bulgaar weens ‘n besering moes onttrek. Sinner het geen ongemak getoon toe hy Ben Shelton van Amerika in die kwarteindronde geklop het nie. Die 38-jarige Djokovic is ook beseer gedurende sy kwarteind-oorwinning oor die Italianer Flavio Cobolli.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-84-sent teen die dollar, 20-rand-85-sent teen die euro en 24-rand-16-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 118-duisend-205-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 69-dollar-7-sent per vat.
# En laastens, Suid-Afrika se laekoste-lugredery, FlySafair, het ‘n nuwe, regstreekse roete tussen Kaapstad en Hoedspruit in Limpopo aangekondig wat toegang tot die Krugerwildtuin makliker maak. Die dorp word deur privaat wildreservate omring. Die nuwe roete wat op 2 Oktober begin, sal drie keer per week vlugte bied. Eenrigtingvlugte sal sowat een-duisend-570-rand kos. FlySafair se bemarkingshoof, Kirby Gordon, sê hulle is trots om reisigers ʼn meer bekostigbare en gerieflike manier te bied om die skilderagtige streek te bereik.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….