Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 6 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Justisie Thembi Simelane ontken ‘n onbehoorlike verhouding met ‘n kontrakteur in die VBS-skandaal
# Gauteng se e-Regering het dringend 700-miljoen-rand nodig om sy internetinfrastruktuur op te gradeer
# En, sokker: Cristiano Ronaldo teken die 900ste doel van sy loopbaan aan
# Die minister van Justisie, Thembi Simelane, het enige onbehoorlike verhouding ontken met die kontrakteur betrokke by die VBS Bank-skandaal terwyl sy burgemeester van Polokwane was. Sy het voor die Parlement se portefeuljekomitee oor Justisie verskyn oor bewerings dat sy ‘n lening van 575-duisend-600-rand ontvang het van ‘n tussenganger met VBS-bande om ‘n koffiewinkel in Sandton te koop. Simelane hou vol sy het nie onbehoorlik voordeel getrek uit die stroping van die bank nie, en was nooit betrokke by die aanstelling van die tussenganger, Gundo Wealth Solutions, nie:
# Die Gautengse Departement van e-Regering benodig 700-miljoen-rand om die provinsie se internetinfrastruktuur op te gradeer. Dit is tydens ‘n oorsiginspeksie onthul deur die portefeuljekomitee oor e-Regering by die Veiligheidsoperasie-sentrum in Rivonia. Michael Waters van die DA sê die internetsekerheid van die Gautengse provinsiale departemente word blootgestel aan die risiko van datadiefstal of kuberkrakers:
# Die Outomobiel-assosiasie verwelkom die ondersoek na die aanstelling van die Franse tegenologiemaatskappy Idemia om die land se nuwe slim-rybewyskaarte te vervaardig. Die Departement van Vervoer het Idemia vroeër die week as die voorkeurbod gekies bo vier ander maatskappye. Die AA se woordvoeder, Layton Beard, sê die ondersoek sal ingesluit word in die Ouditeur-generaal se oudit van die verkrygingsproses vir die nuwe rybewyse nadat hulle kommer uitgespreek het oor die maatskappy se aanstelling:
# Sokker: Portugal se kaptein, Cristiano Ronaldo, het die 900ste doel van sy loopbaan aangeteken in sy land se sege van 2-1 oor Kroasië in die UEFA-Nasiesliga in Lissabon. Dis Ronaldo se eerste doel sedert Junie en verbeter sy internasionale doelerekord tot 131. Die 39-jarige speler het ook op klubvlak doele bygedra vir Sporting Lisbon, Manchester United, Real Madrid, Juventus en sy huidige klub, Al-Nassr. Hy het die meeste doele vir Madrid aangeteken, naamlik 450 in net 438 wedstryde vir die Spaanse reus.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-72-sent teen die dollar, 19-rand-69-sent teen die euro en 23-rand-34-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 55-duisend-759-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-517-dollar-50-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 72-dollar-70-sent per vat.
# En ten slotte: Madrid volg nou ‘n besluit deur ander wêreldstede soos Parys, Montreal en Melbourne met ‘n verbod op die uithuur van elektriese skopfietse van Oktober oor die risiko wat dit vir voetgangers inhou. Vir ondersteuners is elektriese skopfietse ‘n vervoerrevolusie wat pendelaars toelaat om maklik en goedkoop in oorbevolkte stede rond te rits. Vir dié wat daarteen gekant is, is die fietse straatrommel wat beserings veroorsaak en vreedsame voetgangers bedreig. In net twee dekades het elektriese skopfietse gegroei tot ‘n wêreldwye mark wat tien-miljarde dollar per jaar werd is.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….