Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 4 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA sê die Gautengse regering het die Marshalltown-brandslagoffers in die steek gelaat
# Die Referendum-party sê die Poskantoor dien nie meer sy doel nie
# En, rugby: Die openingswedstryde van die VRK in SA word verskuif
# Die DA in Gauteng sê slagoffers van die Marshalltown-brand se liggame is steeds by staatslykshuise weens die Stad Johannesburg se onbeholpe hantering van die ramp. Ses-en-sewentig mense is dood en tientalle beseer toe die vyf-verdieping Usindiso-gebou in Augustus verlede jaar afgebrand het. Mervyn Cirota van die DA sê sommige oorlewendes word steeds by die Lindela-repatriasiesentrum in Krugersdorp aangehou terwyl hulle wag om uit die land gesit te word:
# Die Referendum-party sê die Suid-Afrikaanse Poskantoor dien nie meer sy doel nie, en dis onnodig dat die regering byna vier-miljard-rand bestee om dit te red. Die staatsinstelling het tussen Junie 2023 en Junie vanjaar ‘n inspuiting van 2.4-miljard-rand gebruik om sy skuld te vereffen en finansiële verpligtinge teenoor krediteure na te kom. Hy het ook ander betalings gemaak en afleggingskoste betaal. Die Referendum-party se leier, Phil Craig, sê die Poskantoor moet verkoop word:
# Die Azanian People’s Organisation doen ʼn beroep dat provinsiale regerings afgeskaf word en voer aan provinsies is net verheerlikte en gesuiwerde Bantoestans van die verlede. ʼn Woordvoerder, Jabu Rakwena, sê alle menslike hulpbronne en skaars vaardighede in provinsiale regerings moet aan munisipaliteite beskikbaar gestel word. Hy sê die vlakke van verval in bestuur en die reaktiewe bestuur van hulpbronne vertel ʼn hartseer verhaal van onbevoegdheid en gebrek aan pligsbesef:
# Die Britse polisie ondervra vyf jong kinders oor die moord op ʼn bejaarde man in ʼn park in Leicestershire. Die 80-jarige Bhim Sen Kohli is Sondag aangerand toe hy met sy hond gaan stap het en is later in die hospitaal dood. Drie meisies en twee seuns, tussen 12- en 14-jaar oud, is aangekeer. Volgens sy dogter het hy buite hulle huis op die grond gelê. Sy rug is beseer en hy is dood voor hy geopereer kon word. ʼn Polisiewoordvoerder, Emma Matts, vra ooggetuies om na vore te kom.
# Rugby: Die openingsderbies van die Verenigde Rugbykampioenskap waarby Suid-Afrikaanse spanne betrokke is, is tot Februarie en Maart volgende jaar uitgestel. Dit is om ‘n oorvleueling met die Curriebeker-eindstryd te vermy. Die Stormers sou aanvanklik Saterdag 21 September teen die Bulle in Kaapstad speel en die Haaie sou die Leeus in Durban ontmoet. Die VRK sê hy werk saam met SA Rugby om die datums van die veranderde wedstryde te bevestig.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-96-sent teen die dollar, 19-rand-85-sent teen die euro en 23-rand-56-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 56-duisend-688-dollar-7-sent. Die prys van goud is twee-duisend-474-dollar-13-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 73-dollar-62-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….