Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 2 September 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die dubbele moord in Limpopo ontlok ‘n debat oor rassespanning in landelike Suid-Afrika
# ‘n Onderwysaktivis doen ‘n beroep op die regering om die sny van onderwysposte te keer
# En, tennis: Jannik Sinner en Iga Swiatek mik na die kwarteindronde van die Amerikaanse Ope
# Die moord op twee vroue in Limpopo wie se liggame in ‘n varkhok aangetref is, het die debat laat opvlam oor rassespanning in landelike Suid-Afrika. Die boer Zachariah Olivier en twee werknemers het in die hof verskyn op aanklag dat hulle die vroue geskiet het oor betreding. Die direkteur van die Instituut vir Rassebetrekkinge, Gabriel Crouse, het aan Newzroom Afrika gesê bewerings van rassisme vereis duidelike bewyse:
# ‘n Onderwysaktivis, Hendrick Makaneta, doen ‘n beroep op die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, om die afskaffing van onderwysposte deur provinsiale Onderwysdepartemente te keer. Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement gaan sowat twee-duisend-400 onderwysposte sny weens ‘n ernstige begrotingstekort van 3,8-miljard-rand. KwaZulu-Natal kan op die oomblik nie elf-duisend-en-92 van sy poste bekostig nie met ‘n begrotingstekort van vier-miljard-rand. Makaneta sê die terugsnyding van onderwysposte sal verreikende gevolge hê:
# Twee van Suid-Afrika se groot waterrade, Vaalsentraal en Magalies-water, is op die rand van bankrotskap weens onbetaalde munisipale rekenings. Die rade skuld saam 22,4-miljard-rand, onder die druk van nie-betaling wat 60 dae oorskry. Die rade sit ook met oorgeërfde laste van die nou bankrot Sedibeng-water. Die Departement van Water en Sanitasie onderhandel oor betaalplanne met munisipaliteite wat onder druk verkeer, om die toenemende krisis te beredder.
# President Joe Biden sal met Amerikaanse onderhandelaars vergader wat druk uitoefen vir ’n ooreenkoms om gyselaars vry te laat in die Israel-Hamas-oorlog. Dit volg na die dood van ses gevangenes in Gaza, insluitend ‘n Amerikaanse burger. Biden se amptelike skedule is hersien vir ʼn vergadering in die Withuis, wat ook bygewoon sal word deur visepresident Kamala Harris, wat in die wedloop is om hom na November se verkiesing op te volg. Amerika en mede-onderhandelaars, Egipte en Katar, beywer hulle vir ʼn uitruiling van gyselaars en gevangenes, en ʼn skietstilstand in Gaza.
# Tennis: Die wêreld se nommer-een-speler, Jannik Sinner van Italië, sit sy veldtog voort om sy eerste Amerikaanse Ope-titel in te palm wanneer hy vandag die Amerikaner Tommy Paul pak vir ‘n plek in die kwarteindronde. Sinner het hierdie seisoen die vierde ronde van elke Grand Slam-toernooi gehaal en sy eerste Grand Slam-titel, die Australiese Ope, ingepalm. Die enigste voormalige kampioen wat oorbly, Daniil Medvedev van Rusland, speel teen Nuno Borges van Portugal. In die vroueafdeling pak die wêreld-nommer-een, Iga Swiatek van Pole, vir Liudmila Samsonova van Rusland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-85-sent teen die dollar, 19-rand-76-sent teen die euro en 23-rand-46-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 57-duisend-953-dollar-90-sent. Die prys van goud is twee-duisend-502-dollar-52-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 77-dollar-14-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….