Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 30 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Oos-Kaap het die hoogste moordsyfer in Suid-Afrika
# Kaapse Forum waarsku die Wes-Kaap gaan swaar getref word deur die beplande vermindering van onderwysposte
# En, Paralimpiese Spele: Span Zambië mag steeds in Parys meeding al het hulle die openingseremonie misgeloop
# Die Oos-Kaap het die hoogste moordsyfer per capita in die land met 17,6-persent van sy bevolking wat geraak word. Die Wes-Kaap is tweede met 15,3-persent, terwyl KwaZulu-Natal se koers op 12,3-persent staan. Die ministerie van Polisie het die misdaadstatistiek vir die vierde kwartaal van die 2023/’24-boekjaar en die eerste kwartaal van die 2024/’25-boekjaar bekend gemaak. Volgens die woordvoerder, Thulare Sekhukhune, is altesaam meer as ses-duisend moorde in die land aangemeld. Hy sê Limpopo se moordsyfer is die laagste:
# Die burgerregte-organisasie Kaapse Forum waarsku die Wes-Kaapse Onderwysdepartement se besluit om volgende jaar meer as twee-duisend onderwysposte te besnoei, gaan ernstige gevolge vir die provinsie inhou. Hy waarsku die besnoeiing weens ‘n begrotingstekort van 3,8-miljard-rand, kan lei tot laer onderriggehalte, groter klasse, ʼn toename in misdaad en laer ekonomiese groei. Hy sê ʼn federale benadering tot onderwys in die provinsie kon die gevolge van die departement se drastiese besluit verlig het.
# Die Departement van Gesondheid moedig ouers aan om te verseker hulle kinders se inentings is op datum na ‘n styging in gevalle van Duitse masels in Gauteng, die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal. Die departement stel die inenting beskikbaar wat op ses-maande en 12-maande toegedien word. Woordvoerder Foster Mohale raai ouers aan om moontlike gevalle van Duitse masels aan te meld en skoolkinders met simptome tuis te hou totdat hulle weer gesond is:
# Die Arbeidersregering in Brittanje beplan ‘n groot toename in die terugstuur van onregmatige migrante na hulle eie lande terwyl hulle probeer om die asielagterstand uit te wis. Die ministerie van Binnelandse Sake adverteer ‘n kontrak vir kommersiële vennote om te help met die herintegrasie van mense wat nie die reg het om in Brittanje te woon nie. Die advertensie lui die ministerie wil diensverskaffers uitken wat migrante kan help om uit die Verenigde Koninkryk terug te keer na elf verskillende lande. Die lande is Albanië, Bangladesj, Ethiopië, Ghana, Indië, Irak, Jamaika, Nigerië, Pakistan, Viëtnam en Zimbabwe.
# Paralimpiese Spele: Zambië se atlete mag steeds in Parys meeding al was hulle afwesig van Woensdag se openingseremonie omdat hulle reisplanne nie bevestig is nie. Die Zambiese vlag was nie daar tydens die deelnemende atlete se optog langs die Champs-Élysées voor sowat 50-duisend toeskouers nie. Die Internasionale Paralimpiese Komitee sê daar was geen kommunikasie van die span voor gisteroggend nie, toe hulle bevestiging gekry het die atlete is op pad. Net twee atlete verteenwoordig Zambië in die Franse hoofstad.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-63-sent teen die dollar, 19-rand-54-sent teen die euro en 23-rand-25-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 59-duisend-556-dollar-85-sent. Die prys van goud is twee-duisend-525-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 78-dollar-98-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….