Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 27 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Freedom Under Law is bekommerd oor die minister van Justisie se beweerde betrokkenheid by die VBS Bank-skandaal
# Die regering gaan seker maak die Suid-Afrikaanse Weerdiens is goed toegerus om sy mandaat te vervul
# En, tennis: Coco Gauff plaas nie druk op haarself as die Amerikaanse Ope se verdedigende kampioen nie
# Freedom Under Law en die Ahmed Kathrada-stigting het hulle kommer uitgespreek oor berigte wat die minister van Justisie, Thembi Simelane, aan onregmatige beleggings in VBS Mutual Bank verbind tydens haar ampstermyn as die burgemeester van Polokwane agt jaar gelede. Daar is na bewering gunslone betaal om ‘n lening vir haar koffiewinkel af te los. Judith February van Freedom Under Law doen ‘n beroep op die minister om aandag te gee aan die bewerings:
# Die adjunkminister van Bosbou, Visserye en die Omgewing, Bernice Swarts, sê die regering moet seker maak die Suid-Afrikaanse Weerdiens is goed toegerus met infrastruktuur vir ‘n uitgebreide waarnemingsnetwerk om sy mandaat doeltreffend te vervul. Die Weerdiens is die land se owerheid wat ernstige weerverwante waarskuwings uitreik. Groot dele van die land het die afgelope jare deurgeloop onder stormskade wat deur oorstromings, tornado’s en selfs hittegolwe veroorsaak is. Swarts sê vroeë waarskuwingstelsels lewer ʼn belangrike bydrae tot klimaat-veerkragtigheid:
# Die Amerikaanse kletsrymer Macklemore het sy optrede in Oktober in Dubai gekanselleer weens die Verenigde Arabiese Emirate se beweerde betrokkenheid by die konflik in Soedan. Sy besluit volg op berigte oor die emirate se steun vir die Rapid Support Forces in Soedan, wat verbind word met ‘n ernstige humanitêre krisis. Die VAE ontken die aantygings. Die sanger het beroepe ontvang om die konsert te boikot uit solidariteit met die mense van Soedan, waar meer as 18-duisend-800 mense dood en miljoene ontwortel is. Die organiseerders van die konsert het die kansellasie bevestig en bied terugbetalings aan.
# Tennis: Die verdedigende vrouekampioen op die Amerikaanse Ope, Coco Gauff, sê sy plaas geen druk op haarself nie. Die Amerikaner het haar veldtog goed begin toe sy Varvara Gracheva van Frankryk 6-2, 6-stroop verpletter het. Die wêreld-nommer-twee, Aryna Sabalenka van Belarus, het die Australiese kwalifiseerder Priscilla Hon 6-3, 6-3 geklop, terwyl 2017 se kampioen, Sloane Stephens van Amerika, teen Clara Burel van Frankryk verloor het. Gauff sê haar spel teen Gracheva was die beste in ʼn lang tyd:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-78-sent teen die dollar, 19-rand-87-sent teen die euro en 23-rand-53-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 62-duisend-890-dollar-19-sent. Die prys van goud is twee-duisend-512-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-82-sent per vat.
# Om mee af te sluit: ‘n Graad-vyf-leerder van die Laerskool Van Riebeeckstrand het ‘n nuwe rekord opgestel as die jongste swemmer om van Robbeneiland na Bloubergstrand te swem. Die tienjarige Karli Fourie het die afstand van 7,4-kilometer van Robbeneiland saam met die veteraanswemmer Howard Warrington in drie-uur-vier-minute afgelê. Sy het die swemtog aangepak om 50-duisend-rand in te samel vir die welsynsorganisasie Home From Home, wat pleegkinders in die Wes-Kaap ondersteun.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….