Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 26 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# De DA sê daar is geen geregtigheid vir Babita Deokoran met ‘n amptenaar wat toegelaat word om te bedank
# Die Franse polisie tree vinnig op toe ‘n man ‘n sinagoge aan die brand probeer steek
# En, motorsport: Mercedes se hoof sê opgradering het waarskynlik die swak vertoning by Zandvoort veroorsaak
# Die DA in Gauteng sê dit is skandelik dat die provinsiale Gesondheidsdepartement die tugverhoor van die finansiële bestuurshoof, Lerato Madyo, twee jaar lank uitgerek en toe haar bedanking aanvaar het net voordat dit afgehandel is. Jack Bloom van die DA sê sy is het te doen gehad met 13 aanklagte van wanoptrede met verdagte kontrakte wat die fluitjieblaser Babita Deokoran by die Tembisa-hospitaal probeer stop het. Bloom sê hy vermoed die departement het met opset Madyo se tugproses vertraag om ander mense te beskerm:
# Die EFF in Gauteng sê hy is sterk gekant teen die Johannesburgse burgemeester, Dada Morero, se voorstel oor die werwing van buitelandse burgers in die Johannesburgse Metropolisie-departement. Die burgemeester sê dis om taalstruikelblokke teen te werk. ‘n EFF-woordvoerder, Dumisani Baleni, sê die staat moet beamptes eerder in taal-en kultuurvaardighede oplei. Hy vra ook dat plaaslike werkloses met polisiegrade verder opgelei word:
# Teen-terrorisme polisie in Frankryk het ‘n man aangekeer wat vermoedelik probeer het om ‘n sinagoge in die suidelike stad La Grande-Motte aan die brand te steek. Die voorval het Saterdag gebeur en die verdagte is gister in Nimes aangekeer. Hy het op beamptes geskiet en is toe in die gesig gewond. Twee ander mense is ook in hegtenis geneem. Die Franse media berig die verdagte is ‘n 33-jarige Algeriër. Hy het twee motors in die sinagoge se parkeerterrein aan die brand gesteek, een waarin ‘n gasbottel was, en die deure van die gebou beskadig.
# Motorsport: Mercedes se Formule Een-spanhoof, Toto Wolff, sê die swak vertoning in die Nederlandse Grand Prix kan moontlik toegeskryf word aan die opknapping van albei motors se onderplate. George Russell het sewende geëindig voor sy spanmaat, Lewis Hamilton, terwyl Lando Norris van McLaren met die kroon weggestap het. Mercedes het drie van die laaste vier wedrenne voor die somerblaaskans gewen. Wolff sê ʼn paar faktore kon bygedra het tot die swak prestasie in Zandvoort:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-82-sent teen die dollar, 19-rand-92-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 63-duisend-705-dollar-82-sent. Die prys van goud is twee-duisend-525-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-87-sent per vat.
# Ten slotte: Dit is vandag Internasionale Hondedag. Op dié dag vier die wêreld die mens se beste vriend en skep bewustheid oor die viervoet-metgeselle se behoeftes. Die dag is in 2004 deur die diere-kampvegter, Colleen Paige, ingestel en beklemtoon die belangrikheid van troeteldier-eienaarskap, -aanneming en die welsyn van honde wêreldwyd. Hondeliefhebbers word aangemoedig om hul troeteldiere vandag te bederf met spesiale eetgoedjies, bedrywighede en ekstra aandag.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….