Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 22 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Parlement mik na voltooiing van die herstelwerk voor die einde van die termyn
# Tshwane gee die versekering hy is gereed om die A-pokke-uitbreking te hanteer
# En, rugby: Swys de Bruin is gereed vir sy nuwe uitdaging met die Springbok-vrouespan
# Die Parlement se portefeuljekomitee oor Openbare Werke is ingelig oor die heropbou van die Nasionale Vergadering in Kaapstad na die brand van Januarie 2022. Die adjunkminister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Sihle Zikalala, sê al die nodige maatreëls is getref om die projek van drie-miljard-rand af te handel voor die huidige parlementêre termyn eindig. Zikalala sê die bouwerk is daarop gemik om die geskiedkundige gebou se funksies te herstel:
# Die Stad Tshwane se Gesondheidsdepartement sê hy bly waaksaam te midde van die A-pokke-uitbreking. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het die siekte tot openbare gesondheidsgevaar verklaar. Die departement sê sedert die uitbreking verklaar is, is drie gevalle in Tshwane deur ‘n laboratorium bevestig. Die burgemeesterskomiteelid vir Gesondheid, Rina Marx, sê al drie gevalle is plaaslik oorgedra en daar was geen reisgeskiedenis nie. Sy voeg by 50 dae het verloop sedert die laaste bevestigde geval in die metro aangemeld is:
# Die adjunkminister van Gesondheid, Joe Phaahla, het bekendgemaak die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens se werksaamhede is ten volle herstel. Dit volg na ‘n kuberaanval in Junie wat noodsaaklike openbare gesondheidsdienste ernstig ontwrig het. Phaahla het die diens geloof omdat die IT-stelsels wat uiters belangrik is om 85-persent van Suid-Afrika se bevolking te dien, so vinnig herbou is. Volgens Phaahla verskerp die diens sy kubersekerheid om toekomstige ontwrigtings te voorkom en voortgesette kritieke gesondheidsdienste te lewer.
# Die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie het sy oproep herhaal dat die Onderwysdepartement in Gauteng doeltreffende veiligheidsmaatreëls by skole moet instel. Die vakbond veroordeel Dinsdag se voorval waar drie klaskamers by die Sekondêre Skool Lancea Vale in Eldoradopark aan die brand gesteek is, ʼn dag nadat die graad 12’s se rekordeksamen begin het. ʼn Leerder is verlede week by dieselfde skool met ʼn skerp voorwerp gesteek. Sadou sê geweld by skole het ʼn negatiewe uitwerking op leer en onderrig.
# Rugby: Die voormalige Springbok-afrigterkonsultant, Swys de Bruin, sê hy kan nie wag om saam met die Springbok-vrouespan hulle veldtog vir 2025 se Wêreldbekertoernooi aan te pak nie. Hy is as die prestasie-afrigter van die vrouespan aangestel. De Bruin sê hy is vasberade om nie net die span vir hulle beste vertoning op die Wêreldbekertoernooi in Engeland voor te berei nie, maar ook om die beste uit die span na vore te bring vir volgende maand se Vroue-15-toernooi in Kaapstad:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-93-sent teen die dollar, 19-rand-97-sent teen die euro en 23-rand-52-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 60-duisend-891-dollar-11-sent. Die prys van goud is twee-duisend-501-dollar-37-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 76-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….