Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 19 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die beskuldigde in die moord op Deveney Nel van die Hoërskool Overberg moet weer in September in die hof verskyn
# Satawu dreig om te staak indien die salarisonderhandelings met die lugvaartowerheid misluk
# En, tennis: Carlos Alcaraz sê hy’s jammer nadat hy sy raket stukkend slaan in die ‘ergste’ nederlaag van sy loopbaan
# Die saak teen ‘n 17-jarige seun wat aangekla word van die moord op die leerder van Hoërskool Overberg, Deveney Nel, is tot 18 September uitgestel. Die tiener het vanoggend in die Landdroshof in Caledon verskyn nadat hy Vrydagaand in hegtenis geneem is. Deveney se liggaam is vroeër die maand aangetref in ‘n pakkamer by die skool. Dit het woede in die gemeenskap uitgelok. Die mense van die Overberg-distrik verwelkom die vinnige inhegtenisneming en vra nou verbeterde veiligheidsmaatreëls in skole om nog sulke tragedies te voorkom.
# Die vervoervakbond Satawu dreig om te staak indien salaris-onderhandelings met die Lugverkeer-navigasiedienste misluk. Die onderhandelings hervat vandag. Werkers eis ‘n salarisverhoging van 6,5-persent, terwyl die owerheid 4,5-persent aanbied. ʼn Vakbond-woordvoerder, Amanda Tshemese, sê die owerheid respekteer nie die werkers nie, want daar is wel geld beskikbaar om goeie salarisse te betaal.
# Die Suid-Afrikaanse viroloog Wolfgang Preiser waarsku a-pokke kan die volgende wêreldwye pandemie word. Dertien lidlande van die Afrika-Unie het tot dusver vanjaar gevalle aangemeld. Die Wêreld-gesondheidsorganisasie het ‘n openbare gesondheids-noodtoestand van internasionale kommer verklaar. Preiser het aan die SABC die dringende noodsaaklikheid beklemtoon van toegang tot entstof, diagnose en behandelings reg oor Afrika, waar dié bronne skaars bly:
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje het om verskoning gevra nadat hy sy raket uit woede stukkend geslaan het tydens ‘n tweederonde-nederlaag teen Gael Monfils in die Cincinnati Ope. Die huidige Franse Ope- en Wimbledon-kampioen, wat tweede gekeur was, het sy nederlaag van 4-6, 7-6, 6-4 teen die Franse veteraan die “slegste wedstryd” van sy loopbaan genoem. Hy het egter op Instagram om verskoning gevra. Hy berei tans voor vir die Amerikaanse Ope, en sê sy houding was nie goed nie en dit mag nie op ‘n tennisbaan gebeur nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-77-sent teen die dollar, 19-rand-61-sent teen die euro en 23-rand-4-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-657-dollar-83-sent. Die prys van goud is twee-duisend-502-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 79-dollar-13-sent per vat.
# En ten slotte: ‘n Nege-maande-oue meisie van Elim in Limpopo het ‘n lewensveranderende operasie ondergaan vir ‘n gesplete verhemelte in die Steve Biko Akademiese hospitaal in Pretoria. Ortica Tuwani is met die Goldenhar-sindroom gebore. Dit is ‘n seldsame aangebore toestand wat gekenmerk word deur abnormale ontwikkeling van die gesig en rug. ‘n Woordvoerder van die Gautengse Gesondheidsdepartement, Motaletale Modiba, sê sy was een van 12 kinders wat geopereer is:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….