Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 16 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Justisie betaal 352-miljoen-rand uit in Marikana-vergoeding
# Die Staatspensioenfonds versoek lede om inligting op te dateer vir ‘n seepgladde oorgang na die twee-potstelsel
# En ‘n Keniaanse stad word gedwing om standbeelde van beroemde atlete te verwyder ná negatiewe reaksie
# Die prokureur-generaal in die Departement van Justisie, Fhedzisani Pandelani, bevestig 352-miljoen-rand is uitbetaal aan gesinne wat geraak is deur die Marikana-slagting. Die jongste inligting kom op die 12de herdenking van die tragedie waar 34 mense dood en 78 beseer is by die Lonmin-myn naby Rustenburg in Noordwes. Pandelani bevestig ook die regering se verbintenis om alle regstappe en uitbetalings wat voortspruit uit die dodelike loonstaking, af te handel:
# Die Staatspensioenfonds maak gereed vir die instelling van die twee-pot-aftreestelsel wat volgende maand in werking tree. Lede word versoek om persoonlike en bankinligting by te werk en te verseker dit stem ooreen met rekords by Binnelandse Sake om vertragings uit te skakel met die verwerking van eise. Bygewerkte voordelestate sal beskikbaar wees op die fonds se selfhelp-toepasssing. Lede word aangemoedig om op die toepassing te registreer vir moeitevrye toegang tot hulle voordele.
# Cosatu sê die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap nader ‘n kruispad met toenemende vlakke van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Zimbabwe maak gereed om die naweek die 44ste SAOG-beraad vir staats- en regeringshoofde aan te bied. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê staatshoofde moet fokus op die dringendheid van aanspreeklikheid oor die doelwitte van demokrasie, menseregte en inklusiewe ontwikkeling soos in die SAOG se stigtings-manifes vervat:
# ‘n Vrou is in Rusland 12-jaar tronkstraf opgelê omdat sy ‘n bedrag gelykstaande aan 930-rand geskenk het aan ‘n welsynsorganisasie wat Oekraïne steun. Die Amerikaans-Russiese burger Ksenia Karelina is van hoogverraad beskuldig toe sy in Februarie aangekeer is tydens ‘n besoek aan Rusland. Ondersoekers het op haar selfoon agtergekom sy het die skenking gedoen op die eerste dag van Rusland se inval. Die 33-jarige amateur-ballerina het skuld erken tydens ‘n geslote verhoor in dieselfde hof wat die Wall Street Journal-joernalis Evan Gershkovich verlede maand skuldig bevind het aan spioenasie.
# ’n Keniaanse stad is gedwing om standbeelde van sommige van die land se bekendste atlete te verwyder ná ’n herrie oor die swak gehalte. Twee van die standbeelde het glo die duisend-500-meter wêreldrekordhouer Faith Kipyegon en marathon-legende Eliud Kipchoge uitgebeeld. Die beelde is opgerig vir ‘n geleentheid waartydens Eldoret, wat bekendstaan as die “tuiste van kampioene”, stadstatus ontvang het. Kritici het egter die beelde as ‘n skande en ‘n grap beskryf, met een wat gesê het die werke verteenwoordig Kenia se gesamentlike middelmatigheid as ‘n land.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-92-sent teen die dollar, 19-rand-68-sent teen die euro en 23-rand-11-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-545-dollar-52-sent. Die prys van goud is twee-duisend-463-dollar-7-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-2-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….