Nuus 13:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 15 Augustus 13 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement stuur 570-miljoen-rand terug aan die Tesourie
# Suid-Afrika se kleinhandelsyfers vir Junie is beter as wat verwag is
# En die Olimpiese silwermedaljewenner Bayanda Walaza se skoolmaats verwelkom hom terug
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement het 570-miljoen-rand aan die Tesourie teruggestuur nadat hy 1,1-miljard-rand vir 2023/24 onderbestee het. Volgens die provinsiale hoof van Gesondheid, Arnold Malotana, het die departement toestemming om 530-miljoen-rand na die huidige boekjaar oor te dra. Hy het tydens ‘n vergadering van die wetgewer ook bekendgemaak 3,45-miljard-rand is aan verskaffers verskuldig. ‘n Woordvoerder van die DA, Jack Bloom, sê die onderbesteding gaan pasiënte erg benadeel:
# Kleinhandelverkope het volgens Statistieke Suid-Afrika jaar-op-jaar met 4,1-persent gestyg, wat beter is as vooruitskattings en dui op verbeterde verbruikersvertroue. Die toename volg op ‘n styging van 1,1-persent in Mei en ondersteun positiewe groei in die bruto binnelandse produk. Met inflasie laer op 5,1-persent word verwag dat die Reserwebank in September rentekoerse gaan verlaag, wat verligting aan verbruikers sal bied. ‘n Woordvoerder van Statistieke SA, Raquel Floris, sê die groei word aangevuur deur laer brandstofpryse en beter verkope in supermarkte:
# Duisende mense het die strate van Kolkata ingevaar om die verkragting en moord van ‘n dokter te veroordeel en eis geregtigheid vir die slagoffer en ‘n einde aan die aanhoudende geweld teen vroue in die Indiese samelewing. Die ontdekking van die 31-jarige se liggaam by ‘n staatshopistaal verlede week het landwye betogings ontketen. Die eerste minister, Narendra Modi, het die spoedige straf van diegene geëis wat gruweldade teen vroue pleeg. Groot skares het deur die strate van Kolkata gestroom met ‘n middernagtelike kersligsaamtrek om saam te val met Indië se onafhanklikheidsvieringe vandag.
# Olimpiese Spele: Die 18-jarige Bayanda Walaza het sy skoolmaats van die Hoërskool Curro Hazeldean in Pretoria bedank vir hulle ondersteuning terwyl hy sy droom in Parys nagejaag het. Hy het ‘n silwermedalje gewen in die vier-maal-100-meter aflos. Walaza is die jongste Suid-Afrikaanse atleet om ʼn Olimpiese medalje te wen sedert die land in 1992 weer tot internasionale sport toegelaat is. Hy het tydens ʼn verwelkomingseremonie by die skool gesê die aanmoediging wat hy van onderwysers en leerders gekry het, was wonderlik:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-2-sent teen die dollar, 19-rand-84-sent teen die euro en 23-rand-15-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 58-duisend-409-dollar-92-sent. Die prys van goud is twee-duisend-456-dollar-58-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 80-dollar-16-sent per vat.
# En ten slotte: Die ANC-staatmaker, Gertrude Shope, is vandag 99. Sy is in Johannesburg gebore en as ‘n onderwyseres opgelei, maar het die onderwys verlaat en Bantoe-onderwys geboikot. Shope was van 1991 tot ’93 president van die ANC-Vroueliga. Sy het nou saamgewerk met nog ‘n staatmaker, Albertina Sisulu, en het die Interne Leierskapkorps-taakspan van 1990 tot ’91 byeengeroep. Shope het in 1994 gedurende die ampstermyn van president Nelson Mandela ‘n parlementslid geword in die regering van nasionale eenheid.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….