Nuus 13:00
BULLETIN 11 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Vryheidsfront Plus sê Suid-Afrika is ‘n gewelddadige samelewing
# Kiev is aangeval terwyl Oekraïnse troepe Rusland se Kursk-gebied binnedring
# En, Olimpiese Spele: Sifan Hassan verower haar derde medalje met goud in die vrouemarathon
# Die Vryheidsfront Plus sê daar is toenemende druk van vroue se kant op die samelewing in die algemeen. Erika Botha-Rossouw van die VF-Plus sê Suid-Afrika is ‘n gewelddadige samelewing waar die rol van vroue eeue lank misken is. Sy voeg by dit is egter onbillik om net terug te sit en te verwag die regering moet vroue bemagtig om hulle regmatige plek op elke gebied van die samelewing in te neem:
# Die EFF sê die krisis in vrouegesondheid is blootgelê deur die ontstellende sterftes van ma’s tydens kindergeboorte – ‘n uitmergelende kwessie wat dringend aandag nodig het. Die EFF se woordvoerder, Leigh-Ann Mathys, sê ondanks vordering is die moedersterfte-verhouding steeds erg hoog, met ‘n toename tot 88 per 100-duisend in 2020. Mathys sê die stagnering in die verbetering is ‘n verdoemende aanklag teen die stelsel se mislukking om vroue se lewens voorop te stel. Sy voeg by die situasie is selfs nog erger in streke soos die Noord- en Oos-Kaap, waar sterftes toegeneem het.
# Die burgemeester van Kiev, Vitali Klitschko, sê Rusland het vroeg vanoggend aanvalle op die Oekraïne se hoofstad geloods, met lugverdedigingstelsels wat van die aanvalle afgeweer het. Nooddienste sê ‘n man en sy vierjarige dogter is dood en verskeie mense is gewond. Vroeër het Rusland meer as 76-duisend mense uit sy Koersk-streek ontruim namate die Oekraïne se inval in sy grondgebied verdiep. Duisende Oekraïense troepe is na bewering so ver as 20-kilometer binne Kursk in die grootste aanval op Russiese soewereine grondgebied sedert die begin van die oorlog in 2022.
# Olimpiese Spele: Die Nederlandse sensasie, Sifan Hassan, het vanoggend ‘n nuwe rekord opgestel met haar goue medalje in die vrouemarathon in Parys. Haar tyd was twee-uur, 22-minute en 55-sekondes. Hassan het ook bronsmedaljes in die vyf-duisend- en tien-duisend-meter afstande behaal. Tigst Assefa van Ethiopië het silwer gewen, met die Keniaan Hellen Obiri wat die bronsmedalje ingepalm het. Die Suid-Afrikaner wat die beste gevaar het is die Olimpiese nuweling, Cian Oldknow wat 32ste geëindig het, gevolg deur Irvette van Zyl in die 37ste plek en Gerda Steyn 45ste.
# En, die DA-leier John Steenhuisen sê die party erken en loof die miljoene vroue wat regoor die land ‘n betekenisvolle verskil in hulle gemeenskappe maak. Hy noem ‘n groep werklose vroue wat ‘n groentetuin in die Tara-weg Gemeenskapstuin in Die Bluff, eThekwini, begin het. Steenhuisen sê die inisiatief het nie net in ‘n winsgewende klein sakeonderneming ontwikkel waar produkte op plaaslike markte verkoop word nie, maar dit ondersteun ook talle gemeenskaps-voedingskemas:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….