Nuus 13:00
BULLETIN 4 Augustus 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika verwerp die nuwe Amerikaanse tariewe as ongeregverdig
# Die ANC erken swak munisipale leierskap te midde van die bestuurskrisis
# En rugby: Andy Farrell is die gunsteling om die Britse en Ierse Leeus weer af te rig op 2029 se toer in Nieu-Seeland
# Die regering sê hy sal Suid-Afrika se nasionale handelsbelange verdedig na Amerika se besluit om ‘n tarief van 30-persent op plaaslike uitvoere in te stel. Sowat agt-persent van Suid-Afrika se algehele uitvoere gaan na die VSA, wat dit die land se derde grootste handelsvennoot maak. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Ronald Lamola, het op ‘n nuuskonferensie gesê die tariewe ignoreer Suid-Afrika se minimale 0,25-persent-aandeel van algehele Amerikaanse invoere en hou geen bedreiging in vir Amerikaanse nywerhede of nasionale veiligheid nie:
# Die minister van vervoer, Barbara Creecy, en adjunkminister Mkhuleko Hlengwa sê die departement se eerste skoon oudituitkoms in 31-jaar is ‘n stap in die rigting van ‘n volledig verantwoordbare en skoon administrasie. Hulle het hierdie skoon oudituitkoms toegeskryf aan die departement se verbintenis tot skoon bestuur en verantwoordbaarheid. Die departement se woordvoerder, Collen Msibi, sê spesifiek oor interne beheermaatreëls het die Ouditeur-Generaal geen beduidende tekortkominge gevind nie, veral in die finansiële bestuursprosesse:
# Die ANC sê die gehalte van sommige van sy kaderontplooiings, veral in munisipaliteite, laat veel te wense oor. Slegs 41 uit 257 rade het ‘n skoon oudit ontvang in die 2023/24-boekjaar. Volgens die Ouditeur-Generaal het 99 munisipaliteite ‘n ongekwalifiseerde ouditmening ontvang met bevindinge oor prestasie-inligting en nakoming. Die minister van Elektrisiteit en Energie, Kgosientso Ramokgopa, het tydens die ANC se nasionale uitvoerende komiteevergadering in Johannesburg gesê hulle heroorweeg die ontplooiing na sommige van die groot metro’s.
# Die Oos-Kaapse LUR vir Vervoer, Xolile Nqatha, het ‘n skoolbusbestuurder geskors omdat hy nie ingegryp het toe ʼn 18-jarige leerder verlede week op die bus aangerand is nie. In ʼn video word gesien hoe die leerder van David Mama Senior Secondary School in Mdantsane op die bus deur drie seuns geslaan word terwyl sommige leerders dit aanhits. Die departement se woordvoerder, Unathi Binqose, sê dis skokkend dat die busbestuurder nie ingegryp het nie:
# Rugby: Die uitvoerende hoof van die Britse en Ierse Leeus, Ben Calveley, sê Andy Farrell is die gunsteling om die span weer af te rig wanneer hulle in 2029 in Nieu-Seeland gaan toer. Die 50-jarige het die Leeus in Australië tot hulle eerste reeksoorwinning sedert 2013 gelei, maar hulle kon nie skoonskip maak nie toe hulle Saterdag die laaste toets teen die Wallabies in Sydney 22-12 verloor het. Calveley sê Farrell se indrukwekkende rekord sal in oorweging geneem word wanneer hulle met die proses begin om ‘n hoofafrigter te kies.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 17-rand-98-sent teen die dollar, 20-rand-81-sent teen die euro en 23-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 114-duisend-609-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-359-dollar-77-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie is 68-dollar-75-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….